Upington veg terug

Upington Dorp en die Kakamas-rugbyklub het mekaar Saterdag (28/07) in ’n vriendskaplike wedstryd in Kakamas gepak.


Upington Dorp en die Kakamas-rugbyklub het mekaar Saterdag (28/07) in ’n vriendskaplike wedstryd in Kakamas gepak.

Dit sou die voorwedstryd vir die Tafel Lager-superliga B-groep se eindstryd tussen Kuruman en Port Nolloth wees, maar dié wedstryd is afgestel.

Die stryd tussen Upington Dorp en Kakamas het vroegmiddag afgeskop en ’n spannende eerste helfte opgelewer.

Die eerste punte op die telbord is eers ná 20 minute aangeteken toe Upington Dorp se Pivelion Vries oor die doellyn kon duik.

Kakamas het egter geantwoord met meer as een draai agter die pale om teen rustyd met 19 – 7 voor te loop.

Die besoekers het die tweede helfte met nuwe durf ingegaan en vinnig hul agterstand na 19-elk verminder.

Die telbord het tot die einde toe wipplank gery, maar Upington Dorp kon uiteindelik met ’n eindtelling van 37 – 34 koning kraai.

In die Tafel Lager-superliga se uitspeelrondes het die Kimberley-rugbyklub teen United RFC op eersgenoemde se tuisveld te staan gekom.

United moes die lang pad terug na Upington ry nadat hulle met 83 – 3 in die stof gebyt het.

In Kathu het die Sishen-rugbyklub in die ander halfeindstryd teen Calvinia se Young Tigers om ’n plek in die eindstryd meegeding.

Weer was dit die tuisspan wat die telbordmet ’n telling van 84 – 0 laat kreun het.

You need to be Logged In to leave a comment.