’n Tiener van Upington se mond het in verbasing oopgeval toe sy die eerste keer, sedert sy op ’n ouderdom van vier maande haar gehoor verloor het, haar ma se stem kon hoor.
Chermelle Maasdorp (13) van Upington was vier maande oud toe sy gehoor in albei haar ore verloor het terwyl sy vir breinvliesontsteking behandel is.
Haar kogleêre inplanting is op Vrydag 18 Oktober by die Oorinstituut in Queenswood, Pretoria, aangeskakel en op dié dag kon sy weer haar ma, Velesca (41), se stem hoor.
Chermelle het nooit enige gehoorapparate gedra nie omdat sy geen voordeel daaruit sou trek nie en het oor die jare haarself leer lippe lees. Hulle het ook hul eie “gebaretaal” met mekaar gepraat, sê Maasdorp.
Ongeag daarvan dat sy al haar ontwikkelingsmylpale bereik het, het Chermelle met haar spraak gesukkel.
’n Kogleêre inplanting was die enigste opsie om haar lewensgehalte te verbeter en haar in die toekoms die kans sou gee om haar volle potensiaal te bereik.
Haar ouers het egter nie ’n mediese fonds nie en Chermelle was op ’n waglys vir ’n geldinsameling by die Stigting vir Kinders met Gehoorverlies.
Die Laerskool Kenmare in Krugersdorp het aan die begin van 2023 besluit om met die stigting hande te vat en Chermelle te help.
Danksy die leerlinge, ouers en onderwysers van die skool is byna R400 000 ingesamel en op 16 September het Chermelle die inplanting gekry.
Wouter Immelman, hoof van Kenmare, het Vrydag by die instituut vertel die skool is vanjaar 50 jaar oud.
“As deel van die feesvieringe het die skool verlede jaar besluit om liefdadigheidsprojekte te onderneem om ons skoolgemeenskap en leerlinge bewus te maak van hoe ’n groot voorreg dit is om elke dag ons take sonder lewensveranderende uitdagings te kan pak.”
Elsabé Bell, ’n kunsonderwyseres by die skool, is die projekbestuurder van die skool se liefdadigheidsprojekte en het Immelman en die leerlinge van Chermelle vertel.
Hulle het toe vir Chermelle se kogleêre inplanting geld begin insamel.
Immelman, Bell, Jackie Coetzee, voorsitter van die Laerskool Kenmare se beheerliggaam, Divan Coetzee (13), hoofseun, en Kesia Maritz (13), hoofmeisie, was Vrydag by die instituut om Chermelle se groot oomblik te deel.
Mia le Roux, die eerste Mej. Suid-Afrika met ’n gehoorgestremdheid, was ook daar.
Maasdorp sê die oomblik was vir hulle baie groot.
“Dit was ’n geweldige lang pad om te stap.”
Haar man, Franklin (40), was so aangedaan toe Chermelle die eerste keer kon hoor, dat hy nie kon praat nie.
Dr. Catherine van Dijk, hoof van die instituut se eenheid vir kogleêre inplantings, het voordat sy Chermelle haar eie en toe haar ma se stem laat hoor het, eers op ’n tafel geklop en toe haar hande geklap. Daarna het sy die dae van die week vir Chermelle gesê.
Chermelle het met haar duim na bo gewys soos sy die klanke gehoor het. Sy het ook met haar oë vir Van Dijk gewys sy kan hoor en toe breed geglimlag.
Volgens Van Dijk sal Chermelle steeds lippe lees totdat sy die klanke gewoond is.
“Aan die begin sal sy net 4% gehoor hê wat binne vier tot vyf maande tot 40% of 50% sal verhoog.”
Op Chermelle se inplanting is daar ’n prentjie van ’n pienk kroon en Le Roux, wat haar kroon opgehad het, het breed geglimlag toe Van Dijk dit vir haar wys.
“Dis beautiful,” het sy emosioneel gesê.
Sy moes trane wegvee toe Chermelle die eerste keer kon hoor.
Erika Basson, bestuurder van die Stigting vir Kinders met Gehoorverlies, sê Chermelle sal nou die res van haar lewe kan hoor, maar haar spraak sal nie ten volle ontwikkel nie.
“Sy sal egter voortgaan met spraakterapie en sodoende sal haar spraakbegrip en kommunikasievermoë aansienlik verbeter omdat sy toegang tot klank het. Met hierdie vaardighede kan sy meer aanpak en haar volle potensiaal bereik.
“Chermelle is ’n baie slim en gedrewe kind. Ons weet sy gaan nog soveel hoogtes bereik en ’n wonderlike getuienis kan deel.”
- In September verlede jaar het NoordkaapBulletin oor die Laerskool Kenmare berig wat skole in Upington en omgewing uitgedaag het om ook geldinsamelingsprojekte te begin vir dié duur kogleêre inplanting wat Chermelle nodig het. Toe reeds het die skool R10 000 ingesamel, met R400 000 die volgende doelwit. Bell het vertel dat die Kenmare-leerlinge ook in die Oktober-skoolvakansie ’n pelgrimstog van hoop sou aanpak om geld in te samel.





