Gregan Jansen
Gregan Jansen van Upington. Foto: Verskaf

‘n Jong rugbyspeler afkomstig van Upington is tans as deel van die Suid-Afrikaanse o.19-rugbyspan met ‘n rugbytoer in Europa.

Gregan Jansen het tydens sy skooljare by die Primêre Skool Op die Voorpos en by die Hoërskool Duineveld met sy voortreflike spel as heelagter en senter opslae gemaak.

Sy voormalige afrigter by Duineveld, Stefan van Wyk, praat met lof oor hierdie nederige enigste seun van Noel “Kuifie” en Crystal Jansen van Upington.

Van Wyk sê Jansen wat 1,79 m in sy sokkies staan en 80 kg weeg, is ‘n “borrel energie op die rugbyveld. Hy lei met sy pragtige voorbeeld en sy geesdrif vir die spel. Gregan maak ons skool baie trots met wat hy tot dusver bereik het. Hy is hardwerkend en was geliefd by die skool onder sy rugbymaats. Hy het uitgestyg en ons is verheug en baie trots op hom as ‘n jong uitstaande sportman.”

‘n Bekende in sportkringe in Upington wat anoniem wil bly, sê “sport was maar van kleins af sy passie. Hy het altyd opslae gemaak in krieket, atletiek en in rugby wat tans sy voorkeur is. Hy is ‘n baie bedagsame outjie wat vroeg by ons laerskool die oog op die sportveld gevang het.”

“Hierdie rustige jong man is dinamiet op die rugbyveld”, sê Ashley Louw van die plaaslike rugbyklub Defence Force Collegians waar Jansen gereeld saam met hulle geoefen het.

“Hy is ‘n aansporing en inspirasie, en toonbeeld van wat goeie sportmangees is,” sê Louw.

Tans by Sharks gekontrakteer

Jansen het verlede jaar by Duineveld matrikuleer en is tans by die Natalse Sharks gekontrakteer waar hy die omgewing en rugbykultuur geniet wat die Sharks hom bied.

In 2022 het hy by die Grant Khomo-rugbytoernooi uitgeblink en by twee Cravenweek-toernooie sy staal getoon. Daarna is hy in die Griekwas se o.18-rugbyspan ingesluit.

Die Europese toer het op 29 Oktober begin en duur tot 16 November.

Op 3 November skop die Suid-Afrikaanse o.19-span sy toer met ‘n kragmeting teen die Franse o.19-uitnodigingvyftiental af. Dit word gevolg met ‘n wedstryd op 8 November teen die Franse nasionale o.19-span. Die toer word in Ierland afgesluit waar die jong Bokke op 14 November met Ierland kragte meet.

LEES OOK:Hardnekkige karakter’ volhard

You need to be Logged In to leave a comment.