Hoewel reeds in Februarie aangekondig is dat die lughawens in Kimberley en Upington ’n naamsverandering sal ondergaan, bly dit tot op hede ’n saak waaroor nie veel inligting beskikbaar gestel word nie.
Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het hierdie aankondiging tydens sy provinsiale rede gedoen, maar sedertdien is geen verdere woord daaroor – of oor die proses wat gevolg gaan word – gerep nie.
Saul het toe gesê die naamsverandering van belangrike en strategiese geboue, instellings en strate gaan weer begin. Die lughawens van Kimberley en Upington sou eerste aan die beurt kom, gevolg deur die nuutgeboude Greenpoint-biblioteek in die Noord-Kaapse hoofstad.
Dit is glo om aan die mandaat van die nasionale ontwikkelingsplan se visie vir 2030 te voldoen en te verseker dat sosiale kohesie en nasiebou in gemeenskappe plaasvind.
Volgens Ofentse Mokae, DA-LPW, is die party diep bekommerd oor hoe die proses van naamsveranderinge sal verloop in die afwesigheid van ’n provinsiale geografiese naamkomitee.
Ná die aankondiging het die DA vasgestel dat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, in April aan LUR Desiree Fienies versoek het om ’n provinsiale geografiese naamkomitee te stig omdat die Noord-Kaap die enigste provinsie sonder een is.
“Ons moet dus die premier se aankondiging oor naamsveranderinge bevraagteken, aangesien dit blyk dat hy die kar voor die perde span.”
Dit beklemtoon die versuim van die provinsiale regering om aan die Wet op die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad te voldoen, sê die party.
Wetgewing bepaal dat provinsiale geografiese naamkomitees deur die provinsiale departement verantwoordelik vir kuns en kultuur gestig word, in oorleg met die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad.
Die party is in die proses om met die LUR en haar departement in gesprek te tree om die stigting van so ’n naamkomitee te bespoedig, waarsonder geen naamsveranderinge kan plaasvind nie.
“Terselfdertyd is naamsveranderinge nie gratis nie, en is miljoene rande nodig om dit te implementeer,” sê Mokae.
“Ons sal parlementêre vrae indien om te bepaal hoeveel vir die naamsverandering van hierdie geografiese entiteite begroot word en presies hoe die LUR in die afwesigheid van die komitee met hierdie proses gaan voortgaan.”
Intussen sê Danie Coetzee, Vryheidsfront Plus-LPW, dat naamsveranderinge onnodig is en “meestal ’n vermorsing van geld”. Hy reken dit dra geensins tot nasiebou en die vereniging van verskillende kulture by nie.
Dit geld veral vir neutrale name soos dié van die lughawe in Kimberley en Upington.
Die party voel dat vereniging eerder daaroor gaan om verskillende kulture te erken, te respekteer en daarvoor ruimte te skep.
“Die herdoop van strukture waarvan die huidige name vir ’n bepaalde sektor van die samelewing belangrik is, kan geensins tot eenheid lei nie. Die teendeel, dat sodanige naamsveranderinge tot verdeling lei, is eerder waar.”
“Nuwe strukture wat na eietydse mense genoem word, sal meer tot nasietrots en ’n eenheidsgevoel bydra.”
Die party bevestig ook dat ’n openbare deelnameproses met die naamsverandering van sulke strukture gevolg moet word.
- By navraag het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) gesê dat slegs die staat die prerogatief het om name van openbare instellings, geboue, strate en ander bates te verander nadat ’n spesifieke proses gevolg is waarin alle betrokkenes ’n inset kon lewer. So ’n naamsverandering hou ook vir Acsa geldelike gevolge in, maar Acsa ondersteun die regering se poging tot nasiebou.
- Teen druktyd het die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur nog geen kommentaar gelewer nie.





