‘n Opposisieparty in die Dawid Kruiper-munisipaliteit is verheug oor die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se aankondiging dat hy amptenare en andere vir bedrog en korrupsie ondersoek wat glo sedert 2010 by die munisipaliteit plaasgevind het.
Die SOE se ondersoek na ernstige wanadministrasie by dié munisipaliteit in Upington behels onder meer die verdagte aanstel van prokureurs en lewering van dienste wat na geldelike verliese gelei het.
Flip van der Steen, ’n DA-raadslid, sê die ondersoek kom nie ’n oomblik te vroeg nie.
“Die DA verwelkom die ondersoek. Ons praat al jare in die raad oor die probleme wat ons kwel, maar dan word ons koud gelei en gaan sake voort soos gewoonlik en ons moes dit aanvaar. Ons is dankbaar oor die ondersoek en wil as party graag ’n bydrae lewer om die beweringe in die reine te kry.”
Rudolph Saal, nog ’n DA-raadslid, sê hulle gaan ’n spesiale raadsvergadering versoek om die ondersoek te bespreek.
“Ons het deurgaans alarm gemaak oor die munisipaliteit se gebrek aan ’n funksionele Munisipale Openbare Rekeninge Komitee (MPAC). Ons het ook herhaaldelik en tevergeefs besware geopper teen die inmenging in munisipale sake deur die Provinsiale Uitvoerende Komitee (PUK) van die ANC.”
Hy hoop dat munisipale administrasie en die betrokke politici aanspreeklik gehou gaan word.
“Ons hoop meer munisipale werknemers sal na vore kom oor wangedrag, wat uiteindelik sal lei tot strafregtelike vervolging vir diegene wat belastingbetalers se geld gesteel het.”
Die SOE sê in ’n verklaring hulle ondersoek ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose of verkwistende uitgawes wat deur die munisipaliteit of die staat aangegaan is.
“Die ondersoek dek onwettige of onbehoorlike optrede deur amptenare of werknemers van die munisipaliteit, verskaffers of diensverskaffers, of enige ander persoon of entiteit vir die opsetlike of nalatige verlies van openbare geld of skade aan openbare eiendom.”
Die ondersoek behels bewerings van onwettige en onbehoorlike gedrag wat vanaf 1 Januarie 2010 tot 20 September 2024 plaasgevind het.
Benewens die ondersoek na wanadministrasie, wanpraktyke, korrupsie en bedrog, sal die SOE ook stelselfoute identifiseer en aanbevelings maak om toekomstige verliese te voorkom.
Onwettige, onbehoorlike bedrag ondersoek
Die SOE ondersoek onder meer die aanstelling van:
eksterne sekuriteitsdienste van Desember 2019 tot Desember 2020;
advokate en regsfirmas tussen 2010 en 2020;
’n deursigtige heiningdiensverskaffer in 2018 en 2019; ’
n diensverskaffer op 10 Julie 2013 om data vir finansiële state in te samel;
raadgewende ingenieurs in 2014 en 2015;
diensverskaffers op 1 Desember 2017 vir die klank en verhoog vir die Kersliggies-geleentheid;
die huur van ’n trekker-laaigraaf en ’n wipwa in Augustus 2017 om stortingsterreine in Askham, Welkom, Klein en Groot Mier en Rietfontein te ontwikkel; en
verkryging van toerusting om watervloei en -druk in pypleidings te meet.
Die ondersoek behels ook die konstruksie van paaie in Rosedale en Klein Mier;
plaveisel van strate in Louisvaleweg;
opgradering van strate in Loubos;
herstel van paaie in die kernsakedistrik;
konstruksie van die Leseding-toegangspad;
herseël van ’n padoppervlak;
bou van ’n brug tussen Paballelo en Rosedale;
konstruksie van ’n nuwe Louisvaleweg-rioolpompstasie;
elektrifisering van 1 000 huise in Paballelo- en Dakotaweg;
die bou van sportterreine;
beplanning, ontwerp en projekbestuur van verskeie parke;
ontwerp van siviele dienste vir Rosedale, Paballelo, Louisvaleweg en Dakotaweg;
die samestelling van ’n onroerende bateregister; en
die konstruksie van vier gemeenskapsportfasiliteite in Dakotaweg, Paballelo, Rainbow en Rosedale.




