‘n Deel van die tuin op die terrein van die Upington- Internasionale Lughawe voordat AfriForum dit skoongemaak het.

Foto: Verskaf

Die terrein van die Upington- Internasionale Lughawe was een van die talle verwaarloosde punte in die dorp wat onlangs deur die AfriForum-tak in Upington as deel van sy #VegEnBou-week skoongemaak is.

“Upington maak staat op toerisme en indien niemand na die dorp omsien nie, gaan toeriste dit nie besoek nie,” sê Werner Strauss, die organisasie se distrikskoördineerder in die Kalahari, oor die aksie wat hulle van 22 tot 30 Maart aangepak het.

Op 22 Maart is die hoek van Dr. Nelson Mandelarylaan en Hillstraat skoongemaak en die bome gesnoei om die sypaadjies meer toeganklik vir voetgangers te maak. Drie bakkievragte tuinvullis en twee bakkievragte rommel is verwyder.

Op 22 en 23 Maart is die skoonmaak-aksie by die lughawe aangepak na talle klagtes oor die toestand van die lughawe-terrein ontvang is. Strauss sê dié lughawe is van kritiese belang vir toerisme in die Noord-Kaap. Die tuine en paaie is skoongemaak, gras gesny en bome gesnoei. Sowat 160 sakke tuinvullis is verwyder.

Op 24 en 25 Maart is die park in Rondomstraat netjies gemaak sodat die gemeenskap weer die park kan benut en geniet. Die muur langs die park, wat vier maande gelede tydens ’n motorongeluk beskadig is en nooit herstel is nie, is herbou.

Op 29 Maart is die sirkel en middelman tussen Dr. Nelson Mandelarylaan, Borchet- en Bultstraat, skoongemaak. 70 sakke vullis en tuinafval is verwyder, drie sproeiers is vervang en ander herstel.

Strauss bedank die vrywilligers wat tyd, hulpbronne en energie ingesit het om die aksie ’n sukses te maak, en in besonder vir Henk Opperman (DA-raadslid) wat sy bakkie beskikbaar gestel het; Johan Bezuidenhout van BB Spares en Dixon Batterye vir die 8-ton trok waarmee groot hoeveelhede tuinafval weggery is; Upington-tuindienste wat die tuinafval ontvang het om kompos mee te maak; Husselman Stene vir stene om die muur langs die park te herbou; Lumber City vir verf en toerusting om die herboude muur te verf en Enson Elektries wat verwers gereël het; en Sakkie Spangenberg en Phillo Nel vir kettingsae om bome te snoei.

“As die Dawid Kruiper-munisipaliteit nie hul basiese pligte aan die gemeenskap wil nakom nie, moet die gemeenskap na homself kyk. Dit is verblydend om te sien hoe ’n gemeenskap inisiatief neem en saamwerk om ’n verskil te maak. Dit maak ’n mens trots,” sê Strauss.

Verwerk, Helena Barnard

‘n Deel van die tuin na die skoonmaak-aksie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article