Vanjaar se WildsKOSfees vind op 7 Junie by De Oude Kraal buite Bloemfontein plaas.

Dié eg Vrystaatse fees het oor die jare gegroei en trek gaste van oor die land heen en selfs die buiteland. Die fees het vele fasette, idees, resepte en aktiwiteite wat oor die jare verander en verbeter word.

Die gourmet-geregte wat Marie Lombard, sjef en stigterslid van die WildsKOSfees, voorsit is van uitstekende gehalte en bevestig die veelsydigheid van organiese wildsvleis so eie aan Suid-Afrika.

Vanjaar spog De Oude Kraal weer met van die beste wynplase in die Wes- en Suid Kaap wat hul eie stalletjies beman en wyn bemark.

Wynliefhebbers kan proe aan wyne van bekende landgoedere soos Anthonij Rupert, Babylonstoren, Beyerskloof, Capensis, Cederberg, Diemersfontein, De Krans, Diemersdal, Glen Carlou, Jakkalsvlei, Kranskop, Kleine Zalze, Meerhof, Neil Ellis, Paul Clüver, Raka, Rickety Bridge, Sanniesrust, Warwick, Spier en Thelema.

By elke wynstalletjie sal bykos bedien word wat ‘n volledige smaakervaring bied.

Gerhard Lombard van De Oude Kraal sê hierdie plase van verskillende wynstreke maak dit ‘n ongelooflike verskeidenheid van smake en keuses wat eie is aan De Oude Kraal se WildsKOSfees.

Betrokkenes bly die Wildskosfees klik 'n glasie op vanjaar se fees.
Vanjaar se WildsKOSfees is om die draai. Van links is Marie Lombard (sjef en stigterslid van De Oude Kraal se WildsKOSfees), Jeannine van Zyl (algemene bestuurder van Novus Media Gemeenskapsnuus in die Vrystaat en Noord-Kaap, waaronder NoordkaapBulletin val) en Gerhard Lombard (De Oude Kraal). Foto: Lientjie Mentz

“Hierdie wynervaring beloof om feesgangers se wynkennis en smaak te verryk,” sê Gerhard.

“Die fees se uitleg is so dat besoekers maklik tussen stalletjies kan beweeg om verskillende wyne en wildsgeregte te proe. Elke wynstalletjie sal gepaard gaan met ‘n gepaste wildsgereg of bykos, wat ‘n heerlike kulinêre avontuur verseker.

“Ons sien uit daarna om feesgangers te trakteer op die beste kos- en wynkombinasies van die streek.

“Feesgangers kan uitsien na 22 kosstalletjies, elk met vyf tot ses geregte.”

Geregte, wyn pas perfek

Vanjaar sal ‘n eksklusiewe BBP-middagete met bypassende wyn bedien word vir gaste wat graag die volle ervaring van Marie se kulinêre vernuf wil proe.

Sy en Melanie Moolman, bestuurder van De Oude Kraal en ervare wynproespanne, werk ‘n spyskaart met wildsgeregte uit wat perfek by uitgesoekte wyn pas.

Wat besonders aan die fees is, is die meer as 200 vrywilligers wat hard werk om al die kos voor te berei en te bedien.

Gerhard sê hul passie vir die fees en hul gemeenskap maak elke jaar van die WildsKOSfees ‘n sukses.

‘n Bykomende diens wat vanjaar aan feesgangers gebied word, is ‘n busvervoeropsie na en van De Oude Kraal op die dag van die fees.

Besoekers kan ook aan talle aktiwiteite deelneem. Hendrik Buhrmann gaan gholfwenke gee, gaste sal met ‘n .22-geweer kan skiet, asook kleiduifskiet beoefen, perdry of ‘n rit op die trekker en wa beleef.

Waaghalse kan deelneem aan die gewilde koedoe-kuttelspoeg-kompetisie.

Kaartjies kos R595 en is nou reeds op De Oude Kraal se webwerf beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article