Boere en ander inwoners langs die Vaal- en Oranjerivier – van Bloemhof tot by Kakamas – hou asem op oor die stygende watervlakke van dié riviere.
Swaar en wydverspreide reën het die afgelope naweek oor dié riviere se opvangsgebiede uitgesak. Met die riviere en damme wat reeds vol was, lyk oorstromings onafwendbaar.
Die Katsedam, wat reeds verlede week vol was, het Sondag (16/01) begin oorloop, berig Alet van der Walt. Die Lesotho-Hoogland-waterowerheid het toe reeds begin om water deur sluise uit die dam te laat. Dié dam se oorvloeiwater loop na die Gariepdam, wat reeds vol is.
Die twee damme in die Vaalrivier, die Vaaldam en Bloemhofdam, se vlak is onderskeidelik op 108% en 109%. Die departement van waterwese het Maandag die uitvloei uit die twee damme verhoog.
Die uitvloei by die Bloemhofdam is toe tot 1 200 kumek verhoog, en die departement oorweeg dit om dit na 1 500 op te stoot.
Mary Botha Roos van die River Lodge in Bloemhof plaas bykans elke dag video’s op dié onderneming se Facebook-blad om die nuutste stand van sake by die perseel langs die Vaalrivier aan te dui.
In vergelyking met die video wat sy verlede Dinsdag geplaas het, was die watervlak Maandag drasties hoër. Teen Dinsdagoggend (18/01) het sy gesê hulle is besig om te ontruim.
Sy het vroeër gesê dat Desember, hul piektyd vir toerisme en veral hengelaars, baie stiller was weens die hoë watervlakke en ongunstige weersomstandighede.
“Baie mense het besprekings gekanselleer, maar daar was ook van hulle wat steeds opgedaag het om net die uitsig te geniet,” sê sy.
’n Vlei, wat saam met die Vaalrivier die ontwikkeling langs die rivier omsoom, se stygende watervlak maak dit vir diegene in daardie gebied bykans onmoontlik om die pad te gebruik.
Jana Vermeulen, mede-eienaar van die Wicked Fishing Pro Angling-hengelwinkel in die dorp, het vroeër aan Ischke van Eeden gesê dat ’n mens altyd liggies gesien het met al die vakansiegangers langs die rivier, maar dié jaar moes sy mooi kyk om ’n liggie te sien.
Wiaan Jansen van Rensburg, wat by Kakamas boer, sê die watervlak van die Oranjerivier behoort oor ’n week op sy hoogste te wees. Volgens huidige berekeninge sal die water minder styg as met 2011 se vloede.
Druiweboere, wat tans rosyntjies vir die uitvoermark oes, hoop hulle sal nie skade ly nie.
In 1988 se oorstromings het 7 800 kumek water by punte in die Oranjerivier gevloei, en 4 500 kumek in 2011. Dit lyk asof die vloei vanjaar ongeveer 3 500 kumek sal wees.