Uitspraak voorbehou in Matlala se aansoek om Kimberley-burgersentrum te betree

Thapelo Matlala
Thapelo Matlala Donderdag 29 Januarie by die hooggeregshof in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

Uitspraak is voorbehou in die hooggeregshofaansoek van Kimberley se stadsbestuurder vir ʼn verklarende bevel om na sy kantoor terug te keer nadat sy skorsing deur die hof as ongeldig bevind is. Die Sol Plaatje-munisipaliteit het egter ʼn appèlaansoek ingedien wat Thapelo Matlala verhoed om weer te begin werk.

Die hofsaal was Donderdag 29 Januarie gepak met gemeenskapslede en ander rolspelers in dié uitgerekte hofdrama wat van die munisipale raadsaal na die aangrensende hofsaal in Kimberley oorgespoel het.

Matlala is verlede September geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van korrupsie en ander ongerymdhede. Sy skorsing het in Desember verval sonder dat ʼn tugverhoor gehou is. Hy wou op 5 Januarie vanjaar weer begin werk. Sy kantoordeurslotte is egter verander en hy kon nie ingaan nie. Op 8 Januarie tydens ʼn spesiale raadsvergadering is sy “skorsing verleng”.

LEES OOK: Municipal manager triumphs in court over Sol Plaatje speaker, mayor and council

Hy het op 16 Januarie die hof met ʼn suksesvolle aansoek genader om die raadsbesluit ongeldig te verklaar omdat die reëls nie nagekom is nie. Matlala se skorsing is deur waarnemende regter T. Tyuthuza opgehef nadat die munisipaliteit toegegee het hulle het nie die vereiste prosedures gevolg nie.

Dipuo Peters, speaker, en Martha Bartlett, burgemeester, is bestraffende kostebevele in hul persoonlike hoedanigheid opgelê. Peters en Bartlett het ʼn dag daarna hul aansoek tot verlof om appèl ingedien, wat Matlala weerhou om terug te keer. Sy jongste aansoek is vir ’n verklarende bevel om weer te begin werk.

Skorsing op verskeie gronde ‘gebrekkig en ongeldig’

In haar bevinding het die regter bevind Matlala se skorsing is regtens op verskeie gronde gebrekkig en ongeldig. Die munisipaliteit het nie voldoen aan Regulasie 6 van die Dissiplinêre Regulasies vir Senior Bestuurders nie. Dié gebiedende regulasie vereis dat ’n amptenaar die geleentheid gebied moet word om skriftelike vertoë te rig voordat ’n besluit oor skorsing geneem word.

Matlala is dit nie gegun nie, wat sy skorsingskennisgewing van 8 Januarie vanjaar volgens prosedure onregverdig en onwettig maak.

Sy skorsing van September 2025 het outomaties verval.

Die munisipaliteit kan ook nie bloot ou dokumentasie uit hul vorige (teruggetrekte) interdik-aansoek om Matlala van die burgersentrum te verbied, hergebruik om die nuwe skorsing te regverdig nie.

Regter Tyuthuza het bevind Peters en Bartlett se optrede om die jongste skorsing deur te voer ondanks waarskuwings dat dit onwettig is, asook hul verdediging van die saak, is kwaadwillig en ’n misbruik van die hofproses.

Die bestraffende kostebevel teen hulle is nodig en in die belang van geregtigheid om die openbare beursie te beskerm teen diegene wat onwettig optree.

Verlede Donderdag het advokaat Johan Olivier namens Matlala in die hof aangevoer die munisipaliteit se optrede is oneerlik en onopreg, en openbare geld word misbruik om die litigasie aan te hits. Die vooruitsig op sukses in hul appèlaansoek is uiters beperk.

In hul magsmisbruik is Matlala van sy regte ontneem, en verdien hy geregtigheid. Die ampsdraers het reeds toegegee hulle het nie die reëls gevolg nie.

Vir die redes kan hulle nie aanvoer die notule van die vergadering waarin aanbevelings gemaak is, is ʼn “resolusie” om Matlala te skors nie. Dis ook eienaardig dat in die eerste aansoek die ongetekende notule van die spesiale raadsvergadering van 8 Januarie ingedien is, maar in die tweede aansoek verskyn dit weer, dié keer deur Peters op 28 Januarie onderteken.

‘Gryp na grashalms’

In die jongste hofstukke praat Bartlett en Peters van “die beweerde onproseduriële” besluit, dit ondanks hul toegewings en die hofbevinding dat die raad nie reëls gevolg het nie en die skorsing ongeldig is. Olivier vind dit onthutsend.

In hul verweerskrif wil die munisipaliteit die situasie “vererger” deur te beweer openbare veiligheid en goeie bestuur is in gedrang, soos byvoorbeeld dat Matlala se terugkeer gevaarlike gevolge inhou. Hulle toon geen bewyse en lewer geen substantiewe bewyse of verklarings dat werklike dreigemente gemaak is nie. Al wat gebeur het is dat Matlala in ‘n telefoniese gesprek met ’n raadslid gesê het hy is “teleurgesteld” in die raad se optrede.

LEES OOK: Magistrate issues ultimatum in R2 billion mental hospital corruption case

Die munisipaliteit weerspreek homself in verklarings en betooghoofde waar hulle spring tussen verwysings van die oorspronklike skorsing wat verval het tot die onwettige verlengde skorsing in Januarie.

“Hulle gryp na grashalms,” sê Olivier.

‘Iemand kan sterf’

In haar vrae het die regter dit vreemd gevind dat die munisipaliteit aanvoer dat sy “te streng was” in haar interpretasie van die regulasies sonder dat verdere bewyse aangebied is om die stelling te staaf.

Adv. Patrick Vusi Musi Ngutshana SC vir die burgemeester, speaker en munisipaliteit, het aangevoer hulle is erg bekommerd oor die veiligheidsituasie by die munisipaliteit en dat “iemand kan sterf”. Hy kon egter nie die regter antwoord oor bewyse daarvan nie.

Volgens hom is die saak nie dringend nie en kan Matlala eerder arbeidsprosesse volg as om die hof te nader. Sou hy terugkeer sal ʼn “chaos en gebrek aan dissipline” by die munisipaliteit ontstaan. Sy kliënt betwis steeds of die skorsing ongeldig was, en dring aan ʼn resolusie is geneem.

Hy voer aan daar is verwarring, want sou die resolusie ongeldig was, was daar nie ʼn skorsing nie en was Matala se hofaansoeke onnodig.

Volgens Ngutshana moet elke saak op sy eie meriete oorweeg word. Die burgemeester het die “diskresie om reëls” toe te pas, en dat elke reël nie tot op die kleinste besonderhede gevolg hoef te word nie.

Ondersteunende dokumente afwesig

Die regter het hom gevra of die reëls die woord “mag” of “moet” bevat, maar hy dring aan dat ampsdraers steeds diskresie in unieke situasies mag toepas.

Die regter het gewonder op watter grondslag Peters en Bartlett die reg het om op munisipale onkoste die hof te nader sonder ʼn toestemmingsbrief van die raad of ʼn waarnemende munisipale bestuurder. Daar is ook nie ondersteunende dokumente van ʼn waarnemende munisipale bestuurder wat die bewering van ʼn dreigende chaos ondersteun nie.

Regter Tyuthuza het gevra watter stappe die munisipaliteit oor die “onveilige situasie” gedoen het, en hul interdik-aansoek teruggetrek het om Matala weg te keer.

Volgens Ngutshana is die aansoek steeds “lewendig” en het die hof net die “helfte van die inligting.”

Ngutshana voer aan Peters en Bartlett is as ampsdraers onwillekeurig deur Matlala in sy hofaansoeke betrek wat die munisipaliteit moet verdedig. Hulle hoef nie regsonkostes te betaal nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article