Uitspraak in die verhoor teen die vermeende moordenaars van
Leon Brits sal na verwagting binnekort gebeur.
Waarnemende regter Stanley O’Brien het Maandag (31/01) en
Dinsdag (01/02) argumente van die staat en verdediging aangehoor nadat Enrich
Williams (35) en Amantle Bareki (25) ook hul saak gesluit het sonder om self te
getuig of getuies te roep.
Leon, bekende sakeman en eienaar van die Pofadder-hotel, is
op 7 Oktober 2020 in sy huis in Pofadder met ’n hondeketting verwurg. Sy lyk is
daarna in die swembad gegooi.
Vuurwapens, Krugerrande, diamante en geld is uit die kluis
gebuit om die ware motief van die moord weg te steek.
Suretha Brits (31), vrou van die slagoffer, dien reeds ’n
vonnis van 25 jaar gevangenisstraf uit vir haar aandeel in die huurmoord op
haar man. Sy het erken sy het R200 000 betaal om hom te laat vermoor.
Jacques van Vuuren, middelman in die sameswering om Leon te
vermoor, dien sy effektiewe vonnis van 20 jaar uit nadat hy skuld op aanklagte
van moord en roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van
vuurwapens en ammunisie beken het.
Van Vuuren en Brits het reeds teen Williams en Bareki
getuig.
Die staat voer aan dat Bareki en Williams saam in Van Vuuren
se voertuig na Pofadder is. Van Vuuren was elders terwyl hulle twee na bewering
die moord gepleeg het. Brits het verseker dat haar man huis toe gaan, waar die
twee mans hom glo ingewag het.
Ná die moord het Brits vir Van Vuuren en die vermeende
huurmoordenaars buite die dorp ontmoet.
Volgens adv. Hannes Cloete, aanklaer, het die beskuldigdes
se weergawes in die verhoor verander. Hy voer aan hul weergawes is
“lagwekkend”.
Williams het glo in ’n bekentenis (wat hy ontken) die
moordkomplot erken, maar gesê hy het kop uitgetrek net voordat Van Vuuren na
Pofadder vertrek het. Williams voer aan dat Van Vuuren hom by die komplot
betrek weens ’n kooptransaksie van Van Vuuren se motor wat skeefgeloop het. Op
die aand van 6 Oktober was hulle drie saam in Kathu, maar ’n rusie het ontstaan
waarin kampstoele rondgegooi is. Williams het die kampstoele in die kar gepak,
maar Van Vuuren het die voertuig later daardie nag met sy spaarsleutel gesteel.
Williams het aanvanklik geen melding gemaak dat Van Vuuren
op 7 Oktober 2020 beserings gehad het nie. Later in die verhoor het hy egter
aangevoer Van Vuuren is die moordenaar. Hy het Van Vuuren se beserings weens ’n
motorfietsongeluk op 13 Oktober 2020 as bevestiging gebruik.
Bareki voer aan dat hy op die aand van 6 Oktober sy selfoon
in ’n kampstoel, wat in die kar gepak is, se sakkie vergeet het. Dit is hoekom
sy selfoonkommunikasie met Van Vuuren in Pofadder nagespeur is. Hy voer aan dat
enigeen sy foon kon gebruik.
Volgens die staat weerspreek Bareki homself omdat hy vroeër
in ’n verklaring gesê het dat hy Van Vuuren glad nie op 6 Oktober gesien nie.
Cloete gee toe dat Van Vuuren en Brits se getuienis oor die
ontmoeting buite Pofadder verskil, maar die regter moet in ag neem dat sy
aandring dat sy twee mans in Van Vuuren se motor gesien het.
.
Volgens hom is geen DNS op die moordtoneel gevind nie.
Hoewel Bareki se DNS op ’n waterbottel in die voertuig gevind is, is dit
niksseggend. Die hof mag nie Williams se bekentenis aanvaar nie, want hy was
bedwelm en gedwing om dit af te lê. Inteendeel, hy ontken dat hy dit afgelê
het. Williams en Bareki se weergawes is redelik moontlik waar.
Lt.kol. Pieter Benade, ondersoekbeampte, het in sy getuienis
gesê hy weet nie hoe Van Vuuren se huis en die plek waar die moordwapens
verbrand is, deursoek is nie omdat die vorige ondersoekers oorlede is.
Moribe voer aan die integriteit van die bewysstukke is onder
verdenking. Die skoene wat bloedspore op die toneel gelaat het, is nooit gevind
nie.
Brits, wat lank skuld ontken het, het “lang krokodiltrane”
by die troosdiens gestort, en ook op die moordtoneel toe sy die lyk ontdek, sê
hy. Sy het eers skuld erken toe die getuienis teen haar te sterk geword het.
Hy sê daar is te veel weersprekings.