Altesaam 11 Amerikaanse burgers – sewe mans en vier vroue – is op 16 Maart op ’n kleinhoewe naby Upington op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem. Hulle is glo ook onwettig in die land.
Brig. Thandi Mbambo, Valke-woordvoerder, sê die Valke se eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad het in samewerking met die polisie in Upington ’n operasie uitgevoer en Moira Ann Plummer, Mary Jean Elliott, Trevino Parker, Max Bernick, Levi Leeuizanon, Hayden Roe, Greg Cooper, Andrea Oac, Lynna Tran, David Green en Todd Bernick in hegtenis geneem.
Die kleinhoewe is sowat 70 km van Upington in die rigting van die Nakop-grenspos geleë.
Mbambo sê nog ’n groep, wat ??uit drie mans en tien vroue van Amerika bestaan, word aangehou omdat hulle onwettig in die land is.
Die polisie het beslag gelê op twee rewolwers, ’n haelgeweer, vyf jaggewere en ammunisie. Die operasie is uitgevoer nadat inligting oor onwettige aktiwiteite op die plaas ontvang is.
Dit is nog nie bekend hoe die verdagtes die land binnegekom het of hoekom hulle die arsenaal vuurwapens in hul besit gehad het nie.
Volgens Mbambo het die departement van immigrasie en maatskaplike ontwikkeling in Upington, die departement van binnelandse veiligheid in Gauteng en Interpol aan die operasie deelgeneem.
Die verdagtes het op 17 Maart in die landdroshof in Upington verskyn.
Hulle is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat, behalwe Bernick, wat borgtog van R50 000 toegestaan is. Die saak is tot 10 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.