Minette Kruger besig om te konsentreer op hoe om haar teenstander te troef.

Foto: Verskaf

Sover bekend is Minette Kruger (16) van Kimberley die eerste vrou tot nog toe in Suid-Afrika om vir deelname aan wêreldkampioenskappe in stoei, sowel as gemengde gevegskuns (MMA), te kwalifiseer.

Dié gr. 10-leerling aan die Hoërskool Diamantveld neem reeds van laerskooldae af aan gevegsportsoorte deel en is gaande oor die adrenalien wat deel hiervan is.

Minette het vroeër vanjaar vir deelname aan die twee wêreldkampioenskappe kwalifiseer.

Die kampioenskapsbyeenkoms in stoei het reeds van 17 Julie tot 3 Augustus in Rome, Italië, plaasgevind.

Hier was sy 17de in die o.17-afdeling. Deelnemers aan hierdie byeenkoms was van 51 lande afkomstighet hieraan deelgeneem. Minette was een van die jongste deelnemers en kan volgende jaar steeds in dieselfde afdeling deelneem.

In Mei het sy aan die Afrika- kontinentale kampioenskaps­byeenkoms in Marokko deelgeneem en ’n silwermedalje verower.

Die vrouestoeispan van Suid-Afrika, waarvan sy lid was, was algeheel derde, en dit is die eerste keer in byna ’n dekade dat dié prestasie behaal is.

Die dag ná haar terugkoms van Marokko het sy aan MMA Suid-Afrika (MMASA) se jeugkampioenskap in Boksburg deelgeneem en ’n goue medalje gewen.

Minette is MMASA se o.18-vrouekampioen en is gekies om die land op die wêreldkampioen­skapsbyeenkoms, wat van Woensdag (17/08) tot Sondag in Aboe Dhabi gehou word, te verteenwoordig.

Sy het reeds Sondag (14/08) saam met die span vertrek, en die verwagting is groot dat sy ’n medalje huis toe sal bring.

You need to be Logged In to leave a comment.