Koedoe en sebra in die Noord-Kaap.
‘n Koedoe en ‘n sebra by ‘n watergat. FOTO: Helena Barnard

GHAAPSE BERG – ‘n Uitbreking van miltsiekte (anthrax) in die Douglas en Ghaapse berg-omgewing van die Noord-Kaap is bevestig. Miltsiekte is ’n hoogs aansteeklike bakteriese siekte wat diere én mense kan beïnvloed.

Alle vee- en wildboere, asook grondgebruikers in dié gebied word dringend gemaan om hul diere teen dié siekte in te ent en biosekuriteitsmaatreëls toe te pas.

TLU SA Noord-Kaap sê in ‘n verklaring op Saterdag 25 Oktober dat ’n bevestigde uitbreking van miltsiekte deur die Noord-Kaapse departement van landbou en omgewingsake aangemeld is. Dit volg nadat verskeie elandkarkasse positief vir die bakterie, Bacillus anthracis, getoets is wat dié siekte veroorsaak.

Miltsiekte kom natuurlik in die grond voor waar die spore vir dekades lewensvatbaar kan bly. Diere raak besmet deur aanraking met besmette grond, of besmette water te drink of besmette plante te vreet. Die siekte veroorsaak vinnige sterftes by diere, dikwels sonder sigbare tekens, maar bloed wat uit die neus, mond of anus vloei, is ’n belangrike waarskuwingsteken.

Mense kan besmet word deur kontak met besmette diere of karkasse, hantering of eet van besmette vleis, inaseming van besmette stofdeeltjies, of deur oop wonde. By die mens is antibiotika die eerste lyn van behandeling vir hierdie potensieel dodelike infeksie.

Die doeltreffendste beskerming teen miltsiekte by diere is tydige inenting. Voldoende entstof is in Douglas en Kimberley beskikbaar, het die departement bevestig.

Boere word aangeraai om jaarliks inentings te doen, veral in gebiede waar miltsiekte voorheen voorgekom het. Inentings behoort voor die reënseisoen gedoen te word aangesien bakteriespore met reënwater na oppervlaktes gebring word waar diere wei.

Hantering van karkasse

Indien ’n dier vermoedelik aan miltsiekte gevrek het:

  • Moenie die karkas oopmaak nie.
  • Dra beskermende klere, handskoene en maskers indien enige hantering noodsaaklik is.
  • Merk en isoleer die area waar die karkas lê.
  • Begrawe die karkas minstens 1,8 meter diep en bedek dit met ongebluste kalk om verdere verspreiding van spore te voorkom.
  • Moenie karkasse vervoer of vleis versprei nie.

Beheermaatreëls

In Suid-Afrika is die twee ensoötiese streke vir miltsiekte die Krugerwildtuin en die Ghaap-plato. Terwyl verpligte inentingskemas vir miltsiekte by vee in die grootste deel van die land feitlik uitgeskakel is, bly hierdie twee streke ensoöties weens die oorheersing van wildbewaringsgebiede en wildplase.

Volgens ‘n studieverslag wat in onder meer die Onderstepoort Journal of Veterinary Research gepubliseer is, vrek ‘n groot aantal diere van dié siekte voordat dit opgemerk word. Dit is weens die kort inkubasietydperk en die groot gebiede wat betrokke is.

‘n Groot uitbreking van miltsiekte het in 2007 momentum in die Ghaap-plato gekry, en teen die einde van Maart 2008 het dit die vrekte van duisende stuks wild veroorsaak. Ekonomiese verliese vir die boere van die Ghaap-plato het miljoene rande beloop. Volgens die studieverslag was koedoes die vatbaarste vir miltsiekte, gevolg deur sebras, impalas en wildebeeste. ‘n Groot aantal perde het ook gevrek.

LEES OOK: Aasvoëls: Voortbestaan van natuur se ‘skoonmaakspan’ noodsaaklik

In die studie is ook bevind dat verspreidingsbeheermaatreëls wat in 2007 en 2008 toegepas is – om karkasse te verbrand of met ongebluste kalk of chloor te bespuit en dan met seil of plastiek te bedek en te begrawe – suksesvol was. In 2012 kon geen spore van die bakterieë op dié liggings opgespoor word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.