Tydelike interdik belet dié trofeejag

Die Humane Society International (HSI) in Afrika het voorlopig ’n oorwinning in die hooggeregshof in Kaapstad behaal toe sy aansoek geslaag het om ’n tussentydse interdik te bekom teen vanjaar se jagkwotas vir bedreigde trofeediere.


Die Humane Society International (HSI) in Afrika het voorlopig ’n oorwinning in die hooggeregshof in Kaapstad behaal toe sy aansoek geslaag het om ’n tussentydse interdik te bekom teen vanjaar se jagkwotas vir bedreigde trofeediere.

Kort nadat Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, op 25 Februarie aangekondig het dat tien luiperds, 150 olifante en tien swartre­nosters vanjaar in Suid-Afrika gejag mag word, het die HSI die hof genader vir ’n interdik teen dié besluit.

Regter Patric Gamble het Vrydag (25/03) in ’n bevel ten gunste van die HSI bevind dat Creecy nagelaat het om belanghebbendes, onder meer dié bewaringsorganisasie, te betrek toe sy oor die jagkwotas vir 2022 besluit.

Die HSI het in hofstukke aangevoer dat belanghebbendes aandring op die redes vir Creecy se besluit, asook die sogenaamde wetenskaplike feite waarop haar besluit gegrond is.

Die organisasie sê die nasionale omgewingsbiodiversiteitswet van 2004 vereis behoorlike oorlegpleging wanneer daar oor jagkwotas vir inheemse diere beslis word.

Gamble het die saak tot 8 April uitgestel, en Creecy en haar departement beveel om die dokument waarop sy haar besluit gegrond het aan die HSI beskikbaar te stel. Die dokumente is Vrydag oorhandig.

Volgens Leozette Roode, woordvoerder van die HSI, het die organisasie nou sowat twee weke om die dokumente te bestudeer, waarna hulle na die hof sal teruggaan om ’n permanente interdik teen die jagkwotas vir die bedreigde trofeediere aan te vra.

Wildbedryf Suid-Afrika het op sy beurt die hof se beslissing in ’n verklaring as “skokkend” beskryf.

Wildbedryf SA ondersteun die minister se besluit oor die jagkwotas en meen dit is op suiwer wetenskaplike data gegrond.

Die besluit is geneem ooreenkomstig die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies en Suid-Afrikaanse wetgewing oor die bewaring van biodiversiteit.

“Trofeejag verskaf ’n nuttige bestuursmodel vir wild en word meestal gebruik om oortollige, gewoonlik manlike diere, uit ’n bevolking te verwyder.”

Volgens Wildbedryf SA word die inkomste wat uit trofeejag genereer word vir bewaringsinisiatiewe gebruik.

Suid-Afrika verdien jaarliks $9,6 miljard daaruit en die bedryf het byna 500 000 mense in diens. Dit is gelykstaande aan die werksgeleenthede wat deur die mynbou in Suid-Afrika geskep word.

Hierdie inkomste is kritiek belangrik vir die arm, gemarginaliseerde gemeenskappe in Suid-Afrika. Die voordele is nou in die weegskaal weens die hofbevel, sê Wildbedryf SA.

Tony Gerrans, uitvoerende direkteur van die HSI, het die hofuitspraak verwelkom en sê die organisasie probeer al baie lank om met Creecy in gesprek te tree oor die negatiewe invloed wat trofeejag op die bewaring van bedreigde en kwesbare wilde diere het.

Elise Tempelhoff

You need to be Logged In to leave a comment.