Vuurwapeneienaars wag steeds om te hoor of Bheki Cele, minister van polisie, die amnestietydperk wat op 31 Mei verstryk, gaan verleng.
Brig. Mathapelo Peters, Cele se waarnemende woordvoerder, sê “dit is ’n dringende saak wat die minister moet hanteer, dit is net ’n jammerte dat sy dagboek baie besig is en gedurig verander”.
Peters het onderneem om Maandag te kyk of Cele wel van plan is om die parlement te nader oor die saak en wanneer.
Dié tydperk verstryk op 31 Mei, mits die minister geen verdere verlenging toestaan nie.
Indien daar nie ’n bykomende vergunning vir die amnestietydperk is nie, kan dit ernstige gevolge vir vuurwapeneienaars inhou.
Iemand wat met ’n ongelisensieerde vuurwapen betrap word, kan ’n maksimum vonnis van 15 jaar tronkstraf opgelê word.
Ingevolge die amnestiebepalings kan ’n eienaar sy wapen(s) inhandig of om ’n nuwe lisensie aansoek doen.
Die amnestietydperk is verlede jaar van 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 in die Staatskoerant gepubliseer.
Volgens dié kennisgewing moes amnestie-aansoekers wat in besit is van ’n wapen en/of ammunisie waarvan die lisensie verval het, hul wapens by polisiekantore inhandig en vervolging vryspring.
Wapeneienaars mag dan binne 14 dae daarna om ’n nuwe lisensie aansoek doen.
As die aansoek goedgekeur word, sal hy of sy die wapen terugkry nadat die vuurwapen ballisties getoets is. So nie word die wapen vernietig.
Aansoeke kan slegs by ’n toegewese amnestiebeampte by ’n polisiekantoor gedoen word. Dit is belangrik dat die eienaar sy kwitansie kry en as bewys hou, het dr. Herman Els van die Nasionale jag-en-sportskietvereniging gewaarsku.
– Isabel Venter