Ons is ses wat sit in sy sitkamertjie.

Op die enkelstoel sit hy. Drie kollegas op ’n driesitplek-bank. Ek en sy aanneemseun op die tweesitplek-bank.

Hy is amper 88.

Besig met die oprig van ’n trust om kinders te versorg.

Die lewe het vir hom anders uitgedraai. Een kind, een seun. Net een. En dié is in ’n motorongeluk dood.

Nou maak hy ’n verskil in arm kinders se lewe. Terwyl hy nog leef, maar hy wil ook as hy reeds dood is.

Daarom is ons almal hier.

In sy sitkamertjie.

Op sy rusbanke.

Besig met die oprig van die trust.

Vir kinders.

Maar in sy geseënde, gesonde 88 lig hy sy wysvinger in ’n dreigende posisie.

“Oppas”, sê hy, “oppas vir daardie wat die kinders wil verneuk deur skelm wees.”

Hy verwys na een of twee, verduidelik vir ons om wakker te wees.

My hart ruk as ek dink hoe hy, so opreg, dog so weerloos, die betrokkenes nog moet waarsku teen hulle wat die kinders se geld sal wil wangebruik.

Hy vertel ons sy pad sedert sy seun se afsterwe. Hoe mense al om hom draai. Vir geld.

Hoe hulle vriendelik is. Vir geld.

Hoe hulle wil help. Vir geld.

Hoe hulle agendas het wat nie sy agenda is nie.

Dan lig hy weer sy waarskuwende vinger: “Oppas”.

Hoe waar en hoe mooi en hoe goed is sy woorde nie.

Soek opregtheid van hart en soek mooi harte.

Oppas vir hulle wat net wil skade doen.

Wees ten alle tye waaksaam.

Hy sluit af.

“Ek stig vir arm kinders die trust. Maar oppas . . .”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article