Dit is lekker. Sommer baie, baie lekker. Wanneer iemand gaaf is.
Eintlik is dit ’n gawe wat elke liewe mens het, maar aarde tog – daar is mense wat kies om ongeskik en suur te wees.
Gawe mense kleur jou dag anders in en maak ’n verskil.
Gaaf-wees is eintlik ’n sambreelterm vir so baie dinge. ’n Mooi antwoord, vriendelik wees, soms net ’n glimlag; om te deel, sag te praat, uit te help.
Ek besef dit toe ons op ’n stadium met jong kinders by ’n skool werk en ons so ’n bietjie gesels oor wat jou ’n mooi mens maak.
Dit was toe so ’n klein ou dogtertjie wat antwoord sy is ’n mooi mens omdat sy gaaf is.
En sy hou van mense wat gaaf is.
En mense wat nie gaaf is nie, is vir haar moeilik.
Die dogtertjie leer toe daar vir ’n paar van ons grootmense ’n les.
Sy sê: “As iemand lelik is, wees gaaf; as iemand nie groet nie, wees gaaf; as iemand verkeerd is, wees gaaf.”
Ons gebruik toe die dogtertjie se woorde as ’n tema: “Wees altyd gaaf.”
Soms sukkel ek daarmee.
Wanneer iemand lelik is, of onnodig, of ongemanierd of nie behulpsaam nie.
Maar ja, ons het mos al geleer: ’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af.
Jy kan baie keer nie omstandighede verander nie, maar jy kan kies hoe jy dit hanteer.
Oefen om gaaf te wees.
Oefen die gawe van gaaf wees, gaaf dink, gaaf praat.
Groet, wees gemanierd, wees sag.
Só wen jy.

