Sy was eintlik so ’n goeie mens. ’n Voorbeeld vir almal. Dit was net hierdie een ou dingetjie. So klein en tog so reusagtig. Sy was te lief vir haar kinders.

Die probleem het by die “te” gelê.

Soos Eli in die Bybel.

Die mense het haar ook so begin noem.

Die Eli-ma.

Sy was net te lief.

Daarom was sy blind vir hul foute.

Soms het sy hul foute gesien, maar sy wou hulle nie teregwys nie; wou nie help nie.

’n Mens vergeet soms dat Eli ook ’n goeie pa was.

Te goed. Te sleg.

Goed, want hy het liefgehad. Sleg, want hy het gelos toe hy moes praat.

Dit het hom en hulle doodgemaak.

As Eli weer kon kies, sou hy eerder soms kwaaier wees, meer teregwys, meer die foute aandui?

Ware liefde vermaan wel. Dit leer en laat nie maar net begaan nie.

Ons leef juis in ’n tyd waarin mense nie met die foute van hul kinders gekonfronteer wil word nie.

Tog moet ons daarteen waak om soos Eli – soos die Eli-ma – te word.

Ek onthou ek het eenkeer gevra: “Wat van ’n ma is sy?”

Ek was so moedeloos.

Sy sien hoe haar kind oor die afgrond loop, maar sy sê niks.

En ek besef maar net weer: Ongeag gebrokenheid moet ons ons kinders lief genoeg hê om te praat as ons moet praat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article