As daar een ding is wat ’n mens nie sommer by iemand kan verander nie, is dit gesindheid.

’n Goeie gesindheid kweek moeilik.

Wanneer dit daar is, kan ’n mens berge versit; as dit ontbreek, kan jy nie ’n tree gee nie.

Gesindheid is iets wat van binne kom. Wat iemand moet hê om die lewe vir hom- of haarself maklik te maak en die wêreld ’n beter plek.

Wanneer daar ’n gebrek aan goeie gesindheid is, kan jy maar blaas en stoom en druk en dryf, vorentoe gaan jy nie.

Ek het dit die afgelope week weer besef toe iemand moedeloos vertel hoe hulle tydens ’n werksvergadering om 13:00 alles moet staak en stop waaraan hulle ’n hele oggend gebou het omdat een op sy etenstyd aandring.

Hoe belaglik kan dit nie raak nie.

Natuurlik, as een moet eet moet hy eet, maar gesindheid kan ook maar ’n bietjie deurdruk en ’n bietjie verder gaan.

Wat hierdie man se gesindheid doen, is: Hy maak werk ongedaan, hy hou vier ander op en hy openbaar wat in sy binnekant aangaan.

Ons moenie só wees nie.

Ons moet ander mense se lewe makliker maak, nie moeiliker nie. Ons moet help, nie terughou nie.

Ons moet bou, nie breek nie.

Baie van hierdie dinge lê by die gesindheid.

Kan jy ’n ekstra myl loop, kan jy ’n bietjie minder kla en meer doen, kan oor jou gesê word jou binnekant getuig van goeie gesindheid?

’n Goeie gesindheid is kragtig, verander en dryf vorentoe.

Wat leef aan jou binnekant?

You need to be Logged In to leave a comment.