Twyfelhoekie: Ware vriendskap maak jou skatryk

Ons is sommer so ’n klomp bekendes om ’n kuiervuur.


Ons is sommer so ’n klomp bekendes om ’n kuiervuur.

Ons sit in die vlakte onder helder sterre.

Die geselskap raak diep en alle oppervlakkigheid van menswees val weg.

Die gesprek draai oor wat ’n mens se kosbaarste iets is. Daardie iets wat duurder is as wat geld kan koop.

Baie opsies word bespreek.

Natuurlik geloof, goeie gesondheid, innerlike geluk.

So hou die opsies aan en aan.

Soos ons praat, besef ons waarvoor ’n mens eintlik alles kan dankbaar wees.

Dinge wat ons maklik sommer gering ag.

Tog draai die gesprek elke keer terug na die kosbare en onvervangbare waarde van opregte vriende.

Ware vriende. Hartsvriende. Mense wat jou lewe verander.

Die slotsom word gemaak: Ware vriendskap maak ’n mens ryk.

Skatryk.

’n Mens moet in ware vriendskap belê. Wanneer ’n mens onwrikbare trou in jou vriende het, is jy sterker en kragtiger.

En so hou die voordele van hegte vriendskap aan en aan.

Interessant dat die teenoorgestelde ook daar om die vuur na vore kom – hoe alleen ’n mens is as ware vriendskap ontbreek; hoe seer dit is as so ’n vriendskap deur dood of konteks uitmekaargeskeur word.

Ons moet meer in ware, goeie vriendskappe belê.

Ons moet ons vriendskappe koester en hoog ag, want ware vriendskap verryk ons.

Ware vriendskap maak ons lewe vol.

Dit is iets wat nie in waarde bereken kan word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.