Sy is ’n kleuterskooljuffrou. Haar leefwêreld is hul leefwêreld, en hul leefwêreld is haar leefwêreld.
Dit is ’n wêreld dikwels so klein soos die kinders wat sy oppas en dikwels so groot soos daardie kleuters se verbeelding.
Daardie kleuters kan ’n mens so vies maak wanneer hulle so hardkoppig is, en tog kan hulle soms met diepte na vore kom wat ’n mens verstom.
Dit is só ’n diepte-oomblik wat sy deel wanneer sy vertel van die kleuter wat ewe wys opmerk: “Ek het al lank gelewe.”
En daardie kleuter slaan die spyker op die kop.
Sy het al lank gelewe.
Al het sy ook nog kort gelewe.
Dit hang sekerlik af vanuit watter oogpunt ’n mens kyk.
Ek het al soveel keer by bejaardes gesit wat in hoë lewensjare opmerk dat die lewe verbysnel.
Dikwels kom ’n mens by bejaardes – dan meen hulle dat hulle nog jonk is.
Ander is oud. Stokoud.
Hierdie kleuter reken sy het al lank gelewe.
Almal van ons wat reeds volwasse is, weet sy het nog bitter kort gelewe.
Vir haar voel dit of sy al lank gelewe het.
Sy het al dinge beleef. En ervaar.
So – wanneer is ’n lewe ’n lang lewe?
Wanneer ’n mens baie doen en baie ervaar?
Sou dit beteken dat iemand wat nie baie doen en nie baie ervaar nie, nie ’n lang lewe het nie?
Dalk is die antwoord eenvoudig.
Hoe lank jou lewe is, maak nie saak nie, maar eerder waarvan jou lewe vol is.

