Oupa Plaas was nog altyd iemand wat vergenoegd in sy wese is.
Alles is vir hom reg, en hy is maklik tevrede. Sy hele lewe deur.
Almal van ons kan baie by hom leer.
Onlangs het hy ernstig siek geword en moes hy noodgedwonge leer om baie aanpassings te trotseer.
Dialise ’n paar keer ’n week, elke dag ’n paar keer self-inspuitings en redelik baie pille.
Ek was nuuskierig om te sien hoe hy hierdie aanpassings sou hanteer.
Nee, wat. Met sy geaardheid en sy manier van antwoord hanteer hy hierdie nuwe uitdaging met ’n enkele sin: “Ons moet alles vat in dankbaarheid.”
Toe hy gesond en sterk was, het hy so geleef; en noudat hy siek is, leef hy steeds daarby.
Dit maak my verleë oor hoe maklik ’n mens kan kla of dinge net as vanselfsprekend aanvaar.
Oupa Plaas het die resep vir die lewe: Vat alles in dankbaarheid.
Wanneer jy die goeie ontvang, wees dankbaar.
Wanneer dit swaarder gaan, wees dankbaar.
Ek besef dit is baie meer as net iets wat ’n mens sê: Jy moet opreg kan leef met jou hele wese. Vergenoegdheid is iets wat ’n mens het of nie het nie.
Wanneer ’n mens leer om in dankbaarheid met jou omstandighede saam te leef, is jy net soveel sterker, het jy net soveel meer rustigheid en maak ’n mens net soveel gouer vrede met uitdagings wat oor jou lewenspad kom.
Wat ook al vandag jou omstandighede is: Leef in dankbaarheid. Leer dit aan.

