’n Mens hoef nie al die antwoorde te hê nie. Dit is nie ’n skande om nie te weet nie.
Daar kom dikwels fases en tye in ’n mens se lewe wanneer ’n mens nie weet wat die antwoord is en watter besluit jy moet neem nie.
Dan wag jy maar ’n bietjie.
Of doen navorsing. Of soek die antwoord. Of aanvaar gewoon dat jy nie weet nie. Of besluit op ’n keuse en leef daarmee saam.
Wanneer ons worstel met ’n besluit of hink op twee gedagtes, word ons dikwels verlam deur ons onvermoë om besluite te neem.
Dit hoef nie so te wees nie.
As alles glashelder en duidelik en maklik was, was die lewe mos ook maklik.
Maar dit is nie altyd so maklik nie. Dit gaan nie oor kies tussen twee soorte koeldrank of wat ons vanaand braai nie.
Dit gaan oor beroepskeuses, lewensrigting, rigtinggewende besluite – en dikwels wanneer ons so twyfel, gaan dit oor twee uiteenlopende eindpunte.
’n Mens moet ook vertrou dat, selfs as ’n mens verkeerd kies, dinge reg sal uitwerk.
In vele gesprekke het mense al getuig: As ek geweet het hoe dinge sou verloop, het ek dalk anders gekies. Maar ek het nie geweet nie.
Want ons weet nie.
Ons weet nie wat die toekoms inhou nie.
Daarom tree ons in goedertrou op.
Ons vertrou, ons bereken, ons weeg en beredeneer.
Ons kies, en loop die pad.
Moenie jou moeg maak oor so baie dinge wat jy nie weet nie.
Leef in vertroue.

