Ongelukkig is dit so dat die meeste van ons al iewers iemand se vertroue in ons verbreek het.

Om die waarheid te sê is ontrou waarskynlik meer in ons aard as trou.

Tog is dit die wonderlikste gawe en voorreg as jy met trou omring is.

Wanneer daar iemand is wat jy werklik kan vertrou met jou lewe bring dit sekuriteit en veiligheid.

Dit is nie maklik om te erken dat ons mense se trou nie werd is nie.

Dit is sekerlik so dat daar niks is wat so seermaak soos wanneer iemand wat jy vertrou, nie meer jou vertroue werd is nie.

Of dit nou gaan oor jou dade of jou keuses, jou woorde of jou werke, almal van ons kan maar meer as genoeg daaraan werk om meer getrou te kan wees en meer vertrou te kan word.

Soveel skade is al gedoen wanneer ons nie in trou handel nie.

Daar is die mooi, ou verhaal van ’n moeder wat aan haar kinders die grootste les in wysheid wou leer as wat moontlik is.

Ná baie studies, navorsing, die opsoek van wyses en gesprekke met die oudstes van die oudstes het sy teruggekom met net twee woorde: Wees eg.

Dalk kan ons almal iets daaruit leer.

Om eg te wees in jou handel met ander.

En waar jy nie is nie, vergifnis te vra eerder as te regverdig.

Om te werk aan vertroue is nie ’n goedkoop seevakansie nie.

Dit is ’n eg-wees van hart waaraan ons almal moet werk, lewenslank.

You need to be Logged In to leave a comment.