Daar is sekere emosies wat vir ‘n mens swaarder is om te hanteer as ander. Een daarvan is vrees. Dit maak ‘n mens se binnekant dood. ‘n Ander is onsekerheid. Dit verniel ‘n mens.
“En dan, dan …” het ou tannie Mens daar van Petrusburg gesê.
Sy het vir Ma vertel toe ma kla oor ons wat Potchefstroom toe is vir studie: Verlang is soos winterryp in die veld. Vir almal is dit koud en sleg, maar in dit is ‘n skoonheid wat ‘n mens nie kan begryp nie.
Ma het tannie Mens se woorde vir my in ‘n briefie geskryf Potchefstroom toe.
“Ma verlang na jou, my kind. Soos winterryp op die gras, so is verlang. Dit is knypkoud en maak seer, maar sonder dit is winter nie winter nie.”
En toe vertel ma van tannie Mens se gesprek. En soos ryp wys dit is winter, so wys verlang jy is ryk.
Want as jy na mense kan verlang, dan is jy ryk om hulle te kan hê of gehad het. As jy na plekke verlang, dan ken jy plekke waarna jy kan verlang; en as jy verlang na tye wat verby is, het jy goeie tye gehad.
Ná Ma se briefie moes ek nog drie maande wag voordat ek weer kon plaas toe, die semester moes eers klaar. Dit was eers in Junie se winter dat ek saam met die ryp op die plaas gekom het.
Toe praat ons weer oor die seer van verlang. Die lekker van verlang. Die rykwees van verlang.
Vanoggend toe ek die ryp sien, toe weet ek verlang is ‘n voorreg.
Na tye en plekke en mense. Dit is knypseer, maar dit bring mooi terug.
Mooi mense, mooi plekke, mooi tye. Verlang is tog ‘n stukkie rykwees.
- Lees nog rubrieke hier.


