Die afgelope week het ek die voorreg om so ’n bietjie om die sportveld te staan met kinders wat mekaar mededingend in verskillende sportsoorte aandurf.
Dit is ’n voorreg om die jonges te sien – met ’n kombinasie van jeugdige energie, krag en vasberadenheid.
Natuurlik moet daar in elke wedstryd wenners en verloorders wees.
Dit is immers ’n lewensles vir ons almal.
Soms moet jy kan verloor, en só word ook karakter gevorm: deur te wen en deur te verloor.
Wat my dié week egter opval is die kinders se sekerheid en veiligheid wat hulle kry deurdat hulle behoort.
Hulle is deel van ’n vriendekring, deel van ’n skool, deel van ’n gemeenskap, deel van ’n groep.
En so kan ’n mens aangaan.
Hulle is nie alleen nie.
’n Mens kan wees wie jy wil, jy het tog mense om jou nodig.
Al onttrek jy jou soms en al hou jy soms van alleenwees.
Om te behoort is vir ons almal nodig.
Daarom is dit so dat ’n mens in ’n vriendekring, of ’n werksgroep, ’n skool of ’n kerk, in ’n familieverband, waar ook al soveel veiliger voel as jy jou met die regte mense omring.
Waar ek grootgeword het, het ons gepraat van “jou se mense”.
Dit is hulle wat vir jou omgee, wat vir jou in ’n oorlog sal veg, wat jou nie sal verraai of sal verloën nie. Ek dink daaraan terwyl ek hier langs die sportveld staan. Hierdie kinders behoort.
Dit maak dat hulle veilig voel.

