Die jaar staan nou vinnig einde se kant toe en as ons terugkyk, besef ons hoeveel dinge ‘n mens die jaar dalk anders sou wou doen.
Ons maak foute, verkeerde keuses, doen dom dinge en dra die gevolge en betaal die prys.
Een van die grootste foute wat ons dikwels maak, is om onsself as slagoffers van die lewe te sien.
Dan verwag ons die oplossings van elders. Ons wil alles en almal die skuld gee, maar ons doen nie genoeg introspeksie nie.
Een van die hardste lesse van hierdie ou lewe van ons is dat jy moet besef jy is nie ‘n slagoffer nie.
Soms is mense slagoffers ja, en soms gebeur daar dinge wat van iemand ‘n slagoffer maak. Maar hoe gouer ons elkeen maar eerlik is oor ons eie gebrokenheid, ons eie foute, hoe gouer herstel ons van ons gesukkel.
Dit vat ‘n man op ‘n perd om te erken dat jy verkeerd was, moet opstaan en moet vorentoe gaan.
‘n Mens wil graag kwaad wees, vies vir almal om jou; en ‘n mens wil graag in die lug rondslaan na almal wat dit nie verdien nie.
Dit help niemand.
Onlangs kry ons iemand om by die werk met ons personeel te kom gesels. Hy gebruik dié mooi titel vir sy praatjie: “Ek het afgeval, opgeklim en weer gery.”
Hy vertel van hoe uitdagend sy lewenspad was − al die sukkel, al die swaar.
Tog, hy moes op ‘n punt kom wat hy al sy teleurstellings, seer, sleg en swaar in die oë kyk.
Hy moes weer begin. Hy het.
Vandag is hy 80, suksesvol en dankbaar vir die geleentheid om weer te kon begin.
Maar, en hy waarsku, oppas dat jy nie mislei word deur mense wat dink die lewe skuld hulle iets nie, mense wat voortdurend vir alles en almal die skuld wil gee nie.
Nee, leer hy ons personeel: Staan op, jy is nie ‘n slagoffer nie.


