Oom Pieter is kort duskant 80, maar op 79 is hy nog lekker sterk en gesond. Hy was deel van ons stapgroep wat pas deur die pragtige voetheuwels van die Swartberge gestap het.

Dit is ‘n voorreg en genade as ‘n mens nog so fiks en gesond kan wees op dié ouderdom.

Hy het die 120km wat ons aflê, oor ses dae kafgedraf en sommer sonder moeite elke dag se langafstande klaargemaak.

Hy ken die natuur en vertel vir ons baie meer as wat ons in boeke kan lees.

Gewoon omdat hy die wêreld waarin ons leef goed ken, al beleef het en weet hoe wonderlik die natuur is.

Hy weet wat ‘n mens kan eet en wat nie, en hy vang daardie slange wat baie van ons eerder sal doodmaak.

Maar, wat vir my mooi was tydens ons staptog, is sy antwoord op hoe dit met hom gaan elke oggend.

Hy antwoord met een woordjie, naamlik: “Tevrede“.

En ek dink daaroor.

Dit is voorwaar die beste antwoord wat ‘n mens kan gee. Tevrede.

Soms gaan dit beter, soms gaan dit slegter met ‘n mens.

By tye beleef ons almal weelde en by ander tye ongeluk.

Maar om tevrede in die lewe te wees is ‘n besonderse gawe.

Tevrede met wat gister oor jou pad gekom het, tevrede met wat vandag oor jou pad kom en tevrede met wat môre oor jou pad kan kom.

Dikwels kan ons so onvergenoegd wees, of so maklik kla, of ons besig hou met wat ons nie het nie.

Daar by oom Pieter, aan die voet van die Swartberge, leer ek wat dit beteken om tevrede te kan wees en tevrede te kan antwoord.

Dit vat nogal ‘n bepaalde manier van dink en ‘n bepaalde ingesteldheid teenoor die lewe.

Mag jy hierdie week tevrede wees. In alle omstandighede.

■ Vandeesweek, op 11 Mei, verskyn Twyfelhoekie reeds 14 jaar lank elke week in die NoordkaapBulletin. Ek is tevrede-dankbaar daaroor.

You need to be Logged In to leave a comment.