TWYFELHOEKIE | Teen liefde kan selfs die wêreld nie weerstand bied nie

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

‘n Nuwe jaar hou altyd soveel beloftes in. In ‘n groot mate weet ‘n mens die lewe gaan gewoon voort, elke dag het sy dinge, daar is voorspoed en daar is teëspoed, daar is mooi en daar is seer. Dit ken ons almal.

Tog is dit asof ‘n mens vol verwagting voor ‘n nuwe werksjaar staan, ‘n nuwe skooljaar.

Ouboet se troue maak dat ons sommer vinnig vinnig hierdie jaar binnegaan met ‘n groot fees. Wat is dan nou lekkerder as jou seun en sy aanstaande besluit hierdie jaar gaan hulle as ‘n gesin saam aanpak. ‘n Nuwe begin.

Dit herinner my aan hoe verandering deel van ‘n mens se lewe is. In my gedagtes is hy nog die klein seuntjie wat graag met karretjies speel, maar in die werklike lewe het tyd geloop en gaan hy die nuwe jaar as ‘n getroude man binne. Dit is kosbaar.

Hul jong liefde herinner my daaraan dat ‘n mens moet onthou om die mooi en die liefde in die lewe te soek. Ook in ‘n nuwe jaar.

Die wêreld kan maak wat dit wil, dit kan nie weerstand bied teen liefde nie.

By baie van ons het die werklikheid lankal ingeskop dat nuwejaarsvoornemes ‘n mens nou nie juis baat of baie help nie.

Maar hierdie jong liefde herinner my ‘n mens het nie baie voornemens in jou lewe nodig nie.

Leef net liefde.

Dit is en bly tog die belangrikste oor al die eeue. Een van die moeilike dinge vir my om te begryp is die opdrag dat ons selfs ons vyande moet liefhê. Dit kom nie maklik nie; is nie vanselfsprekend nie, maar dit dra die beginsel sterk oor. Wees lief, hê lief. En leef dit.

Die wêreld is so stukkend en die wêreld is so boos. Besluit jy, om ongeag alles, ongeag wat, gewoon net liefde te leef. En leef dit opreg, van hart, ook in n nuwe jaar. Leef liefde.

Altyd. Orals.

  • Lees nog rubrieke en menigstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article