As daar nou een ding is waarvan daar in hierdie ou wêreld van ons heeltemal te veel is, is dit praat.
Te veel praat en te min doen. Nie dat daar ‘n probleem is met praat nie; die probleem kom in wanneer baie praat, doen begin vervang.
Deesdae wil elke mens op hierdie aarde mos ‘n video maak, ‘n belangrike onderhoud hê, ‘n meningsvormer wees, motiveer en aanspoor.
Laat dit so wees.
Maar behoed ons tog dat ons ‘n punt bereik waar almal wil praat en min wil luister – en nog minder wil doen.
Geen wonder nie organisasies kla vrywilligers wat hande, voete, tyd en liefde gee, word al hoe minder.
Wanneer ‘n mens eers vir homself mooi klink, dan gaan staan die wêreld stil.
Uiteraard is praat belangrik en op sigself nie verkeerd nie, of dit nou ‘n preek is wat gehoor moet word, of ‘n mening, of ‘n stuk motivering.
Daar is baie mense wat maar sommer ‘n klomp nonsens ook praat. (Hierdie mening is natuurlik subjektief en hang af van waarna jy oplet.)
Die werklikheid is, die eintlike punt is: Ons mense het te lief geraak vir praat en te bang vir doen.
Geen wonder ‘n mens word gewaarsku om ‘n wag voor jou mond te plaas nie. Dit gaan nie net oor vuil taal of lelik praat nie, dit gaan ook oor te veel praat.
‘n Mens se woorde kan eerder min wees en jou dade baie. Eerder as dat jy baie praat en te bang is om te doen.
Samelewings word nie gedraai en geskuif en verander deur wat almal sê en waaroor almal praat nie. Dinge verander waar mense doen.
Praat as jy wil praat, maak jou video’s en lewer jou kommentaar; maar as jy wys is, doen meer as wat jy praat.