“Dit was in die tyd van die Groot Depressie . . . ,” vertel die oom.
Ons sit almal onder die groot, ou appelkoosboom op die plaas. Hoogsomer.
Netnou sal Ma die waatlemoen uit die dam laat haal – dit dryf daar om af te koel – en sy sal sommer die huis uitkom met ’n vadoek, ’n groot mes en ’n emmer vir die skille, wat vir die varke gevoer word.
Só het dit dikwels gegaan.
Dan, soos daardie middag, wanneer die bure of iemand daar sou kuier, het ons stories gehoor uit lank terug se dae en ons menswees vorm sonder dat ons dit besef.
Vandag dink ek weer aan daardie spesifieke dag onder die boom: Toe die oom van die kerk vertel het van die Groot Depressie.
Nie die depressie wat ons deesdae ken wat mense kry nie.
Nee, die ekonomiese depressie.
Toe werk skaars was; mense gruis gekap het en treinspore gelê het en damme en paaie gebou het vir ’n paar sent per dag.
Die werk was skaars, kos nog meer skaars en geleenthede vir vorentoe gaan, die skaarsste.
Dit is in daardie tyd, vertel die oom, dat hul geslag karakter leer ken het en leer bou het.
Karakter word nie gesien in tye dat dit goed gaan nie. Karakter word gesien in tye van swaarkry en uitdagings.
Ons bekommer vandag oor krag wat aan is of nie, oor geld wat daar is of nie, oor werk en oor dit en dat.
Ons moet meer bekommerd wees oor hoe ons van karakter lyk.
Want karakter wys in moeilike tye.

