Daar kom tye in ’n mens se lewe dat dit voel asof daar net te veel dinge op een slag is, en die antwoorde voel na net te min en die vrae dan net te veel.
Dit weet ons almal.
Soos daar tye kom dat dit voel asof dinge makliker is en asof alles maklik is, so ook kom daar tye dat ’n mens voel maar nou is die uitdagings ’n bietjie baie.
Asof ’n mens wil kliphard sug: My skouers is breed, maar nie só breed nie; ek is sterk, maar nie só sterk nie; ek het planne, maar nie só baie planne nie.
Dit is eintlik oor daardie einste tye dat die ou mense so mooi gesê het jy op moedverloor se vlakte wil gaan sit.
Maar nee.
Lank gelede het ek en oom Daan in die veld geloop.
Saam.
Ek het nie geweet watter kant toe en hoe ver ons nog moes stap nie.
Ek het later begin wonder of ons ooit weer die huis gaan kry.
Eers veel later, toe ek groot is, het ek besef dit was eintlik vrek maklik en baie naby.
Sy raad was goed, op daardie dag.
Ek het nooit weer aan daardie dag gedink nie, totdat ons hom gister begrawe het.
Toe het ek weer daardie dag onthou.
Toe ek en oom Daan in die veld verdwaal het.
Toe ek net wou gaan sit.
Moeg was en warm gekry het.
Sommer net nie meer lus gehad het om saam met hom te loop nie. Om saam met hom te soek nie.
“Soek die pad, Boeta, soek die pad. Kom uit die bosse.”
Dit was goeie raad.
Kom uit die bosse, soek die pad.

