Sy dra ’n klip. In haar hand, ook in haar hart.
Die klip in haar hand kan ek sien, maar die een in haar hart nie.
Dit is eers toe ek vra oor die klip in haar hand dat sy antwoord oor die klip in haar hart.
Hoekom dra jy so ’n groot klip?
Ek wou eers help dra, maar sy wys dit dadelik van die hand.
Ek gaan dit in die water gooi, antwoord sy. Ek kan nie die klip in my hart in die water gooi nie, maar ek kan die klip in my hand weggooi.
Hoekom is daar ’n klip in jou hart?
Ek gaan nie vertel nie, antwoord sy.
Kan ek saam jou ’n klip in die water gooi?
Hoekom sal jy wil?
Vir die eerste keer staan sy ’n oomblik stil.
Sommer vir almal wat ’n klip in die hart het, antwoord ek.
Sy kyk na my asof ek rêrig dom is.
Nee, sê sy. ’n Mens kan nie iemand anders se klip in die water gooi nie. Jy moet jou eie. Dit is jou klip. Jou seer.
Jy kan wel by iemand staan wanneer hulle hul klip in die water gooi.
’n Mens kan nie vir iemand anders nie, maar ’n mens kan langs iemand staan.
Jy sal eers verstaan, antwoord sy, as jy so ’n klip in die hart het.
’n Mens moet dit self wegwerk.
En dan wens jy dat iemand langs jou staan en jy nie alleen is nie.

