As mense is ons mos maar almal in die leerskool van die lewe.
Ons kan baie op skool leer; ons kan onsself goed op verskeie vakgebiede toerus. Ons weet egter wel ervaring is ’n goeie leerskool en kan nie deur boeke-kennis uitgestof word nie.
As daar een ding is wat ons almal in hierdie skool van die lewe moet leer, is dit dat seerkry en seermaak gevolge het.
En nie net beperkte seer en beperkte gevolge nie. Dikwels langdurige gevolge.
’n Mens kan jammer sê oor ’n woord of ’n gebeurtenis, ’n slegte voorval of dat jy iemand te na gekom het.
Maar jy moet in ag neem daar is gevolge.
Jy wens soms jy kan dit net afskud en aangaan. Jy wens soms jy kan net sê: “Kom oor dit.”
Maar dit is nie so maklik nie.
Soms veroorsaak ons seer en soms word ons seergemaak, en dan is dit nie beperkte seer nie.
Dit is nie beperk tot die oomblik of die gebeurtenis nie.
Dit trek ’n lyn deur.
’n Lyn wat onthou word.
’n Lyn wat gevolge het en ’n lyn wat nie sommer net uitgewis kan word nie.
Daarom is dit vir almal van ons belangrik om eerder seerkry te probeer voorkom.
In ons woorde en in ons optrede.
Jammer-sê is nodig, dit bring verandering, maar dit vat nie sommer ’n seer woord of ’n seer-seer net weg nie.
Laat ons dus mooi werk met mekaar.
Dink voor ons praat.
Dink voor ons doen.

