Ek en die gesin loop al ’n paar jaar ’n pad met mekaar.

Ek ken hul omstandighede so goed.

Ek sit saam met hulle en luister na die dokter. Terminale kanker.

Hul dogter.

Die volgende paar maande gaan moeilik wees, sê die dokter.

Ons gaan sit buite in ’n koffiewinkel, en die pa verwoord eerste sy seer: Hoekom is die lewe so wreed, so hard?

Sy binnekant sug.

Die lewe is soms wreed ja, soms hard.

Vra maar enige kind wat vandag in Oekraïne in ’n bomskuiling sit, vra enige ouer wat al ’n kind verloor het, vra enige kind wat ’n ouer verloor het, vra ’n verliefde paartjie vir wie niks uitgewerk het nie.

Een oomblik kan dit nog vlinders in die maag wees – en die volgende oomblik, met die klap van vingers, verander die lewe.

Maar in die hardheid van die lewe is daar ook die sagtheid wat dit beter maak.

Soos die pa daardie dag in die hospitaal – hy het ’n harde hou gevat, maar sy oë was sag. En so sag was hulle as ouers totdat ons hul dogter begrawe het.

Hul binnekant was sag. Hul aanvaarding was sag.

Wanneer mense met die wreedheid en die hardheid van die lewe omgegooi word, is dit nodig om hulle te oortuig dat daar ’n môre is.

Hard en wreed is daar, ja, maar daar is ook sag.

Onthou die sagtheid wanneer die hardheid en die wreedheid van die lewe jou tref.

You need to be Logged In to leave a comment.