Op ’n mal en deurmekaar dag in die afgelope week kry ek ’n e-pos oor besige dinge en harde werk, maar wat so mooi afsluit met ’n sinnetjie: “Mag jou dag so saggies wees soos herfsblare wat grond toe tuimel.”
Skielik sien ek hierdie herfsblare.
Hulle het reeds hier in Pretoria in party strate begin val.
Ek het hulle nie gehoor nie.
Daarvoor was my dag te hard en te besig.
Wat ’n mooi wens om iemand toe te wens: Mag jou dag saggies wees soos die val van ’n herfsblaar.
Ons dae is hard en vinnig, oraloor.
’n Mens hoor mos hoe die mense daagliks praat oor hoe die dae vol is en besig is; die tyd min en die uitdagings baie.
Soms is dit asof die mense in ons tyd moed verloor met baie dinge en of die hardheid van hierdie wêreld wil afgee op ons.
Dit moenie.
Die hoef nie.
Ons kan mekaar steeds die sagtheid toewens van ’n dag wat so sag is soos die val van ’n herfsblaar.
Juis dikwels moet ons dit doen omdat ons nie besef waardeur iemand anders moet werk nie.
Ons ken nie mekaar se binnekant nie, en ons ken nie die maskers wat ’n ander moet dra nie.
Ons ken nie die worsteling van die een wat langs jou werk, saam jou leef of langs jou in die kerk sit nie.
Daarom moet ons in ’n harde wêreld mekaar soms ’n sagte dag toewens.
’n Dag so sag soos die val van ’n herfsblaar.

