Die middag toe ek hom voor die winkel raakloop, was hy reeds 94 jaar oud.
Hy het werklikwaar nog sonder ’n kierie geloop en sonder ’n bril.
Andersom gesê – hy was buitengewoon gesond.
Ons gesels sommer daar in die straat.
Vra hoe dit gaan, waarmee hy hom besig hou.
Kuiers by hom op die plaas was altyd besonder verrykend, gewoon omdat hy met so ’n eenvoud van alles na die lewe gekyk het.
Hy was vergenoegd en tevrede.
Daardie middag toe ek hom raakloop, vertel hy weer vir my hoe ryk hy is.
Hy omskryf dit baie mooi: “My rykdom is in my gesondheid.”
Natuurlik is dit waar.
Hy kan immers niks saamneem graf toe nie, en solank hy leef, is gesondheid sy grootste rykdom.
Ná daardie dag het hy drie jaar nog geleef. In goeie gesondheid. Besonder geseënd. Besonder begenadig.
Wat my bybly, is sy siening van rykdom.
Hy was tog so bang mense soek hul rykdom in geld wat hulle kan tel, of in prestasies wat hulle kan afmerk, of in besittings wat hulle definieer.
Vir hom was die lewe eenvoudig.
Is jy dankbaar vir wie jy vandag is, en vir wat jy het?
Sy woorde daardie middag daar stem my steeds tot nadenke: Jy moet weet wie en wat in die lewe jou ryk maak, anders is jy die armste van alle mense.
Hy het arm gesterf, sonder iets in sy testament, tog was hy een van die rykste mense wat ek tot nog toe geken het.
Wie en wat maak jou ryk?

