Ek het in hierdie lewe van ons al baie reg en onreg gesien. Reg is mooi, onreg is sleg.
Almal van ons hou van reg. Onreg maak mense bitter, lelik; bring konflik en vernietig. Reg is nie altyd maklik nie, maar bring op die einde wel vrede en geluk.
Maar wat is die punt? Daar sal altyd reg wees en daar sal altyd onreg wees.
Ek betrap myself dat ek langer tob oor die onreg as oor die reg.
Ek vang myself uit dat ek meer wonder oor die lelik van die lewe as die mooi. En ek begin rondom my kyk. Ek kies ‘n oomblik om die goeie te soek.
Skielik staan ek verstom oor hoeveel mooi daar wel om ‘n mens is.
‘n Boetie wat sy broodjie met sy sussie deel. Iemand wat vir ‘n vreemdeling ‘n inkopiesakkie voertuig toe dra. ‘n Glimlag saam met ‘n môregroet wat ‘n dag net mooier maak.
Ek let op hoe iemand uitreik na ‘n ander in nood, hoe iemand ‘n bietjie tussen twee verdeel. ‘n Ander maak iemand se dag beter met ‘n warm koppie koffie, en ‘n ander help ‘n groot taak afhandel.
Ek besef die harde werklikheid: Hoe meer ek op die reg en die mooi fokus, op die mense rondom my, hoe meer raak dit my.
Dit beïnvloed my. Om te sien hoe mense mekaar mooi hanteer, maak my positief en stem my gemoed hoopvol.
Die teenoorgestelde is ook waar.
As ek die bril van onreg opsit, stem dit ook my gemoed.
Dit is ‘n harde werklikheid. Om die wêreld ‘n beter plek te maak, mag ek nie onreg verby laat gaan nie, maar kan ek kies om te fokus op die mooi en die goeie.
As ek mooi soek, gaan ek mooi sien, gaan ek mooi dink en gaan ek mooi doen.
Let ‘n bietjie op.
Daar is nog mooi mense met mooi harte en mooi binnekante.
Soek mooi en jy sal mooi kry.
Lees nog rubrieke hier.


