Onlangs het ek die voorreg om te gesels met ’n groot span onderwysers oor die geweldige voorreg om te mag werk.
Om te kan werk. Om in jou roeping van jou dagtaak jou te mag uitleef.
Ons gesels oor hoe daar nie plek is vir lui wees in hierdie lewe nie.
Hoe jy moet doen wat jou hand vind om te doen.
Jy moet jou dagtaak met trots vervul.
En dit goed doen.
’n Mens moet werk om ’n verskil te maak.
Deeglike, noukeurige, nougesette werk wys karakter.
Jou werk is nie ’n vyand nie.
Dit is ook nie iets wat ver van jou af is nie.
Die uitdrukking hand aan die ploeg slaan, dui op roeping, op rigting, op die besef van hoe belangrik jou werk vir jou menswees is.
Daarom fokus ons baie sterk ook hoe ’n mens bou en werk vir ’n toekoms.
Vorentoe ploeg.
Diep ploeg.
Ná hierdie gesprek kom een van die aanhoorders na my toe.
Eintlik bewoë.
Nie oor iets wat ons gesels het oor werk nie, daarmee stem sy saam.
Maar oor die mooi wat sy onthou toe ons gesels oor hand aan die ploeg slaan.
Haar vader is oorlede, jare gelede reeds.
Op sy grafsteen staan ’n enkele sinnetjie, wat sy hele lewe opsom; wie hy was, hoe hard hy gewerk het en hoe deeglik hy gewerk het.
Op sy grafsteen staan: “Hy kon ’n reguit voor ploeg.”
Hoe mooi en kragtig is dit – as jou lewe getuig jy kan ’n reguit voor ploeg.


