So op die snelweg reisend na my dagtaak neem ek sy oproep.
Hy is eintlik al sterk bejaard en ek begin dit oor die telefoon aan sy stem hoor.
Ek het baie lanklaas van hom gehoor.
Baie jare reeds toer ons van tyd tot tyd saam tussen grafte en slagvelde, besoek ons museums en soek mense op.
Eintlik is dit al wanneer ons mekaar sien. Wanneer ons saam toer.
So oor die jare heen ontstaan ’n band met mense met wie jy dieselfde stokperdjies deel.
Ons toer, gesels, gaan uitmekaar en toer weer.
Daarom is dit eers vreemd dat hy skakel. Totdat hy die rede vir die oproep deel.
Toe voel my hart sommer warm.
Hy het gewoon gebel om hallo te sê.
’n Bietjie te kuier en net te hoor hoe dit gaan.
So, hoe gaan dit, vra hy. En hou ek by met alles wat besig en druk is. Is die gesondheid nog goed.
Ons gesels so ’n bietjie en hy maak die pad korter.
Hy sluit die gesprek af.
Hy het nie eintlik om ’n rede geskakel nie.
Hy wou net inloer en hallo sê.
Hoe kosbaar is dit. Ek weet wat dit vandag vir my beteken.
As iemand nie noodwendig ’n rede nodig het om kontak te maak nie.
As iemand gewoon belangstel, verlang en opvolg hoe dit gaan.
Sy hallo sê, sonder rede, laat my dag anders lyk.
Soms moet ’n mens net vir mense hallo sê, sonder rede, en hoor hoe dit gaan, opreg belangstel en beste wense oordra.

