Ek kry ’n handgeskrewe briefie op blou papier in ’n groen koevert.
Dit kom uit ’n plattelandse dorpie in die Noord-Kaap.
’n Piepklein dorpie.
Die skrif is mooi en fyn – maar die pen is duidelik deur ’n bejaarde hand vasgehou.
Die ma skryf so mooi, so opreg, so sonder voorgee.
“Meneer, ek lees al vir jare jou Twyfelhoekies elke week. Ek lees wat daar staan en soms lees ek wat daar nie staan nie. Daarom skryf ek nou vir jou persoonlik.
“Meneer, skryf asseblief vir my ’n spesiale Twyfelhoekie vir my dogter.
“Skryf een met dit wat daar staan, maar skryf ook met dit wat daar nie staan nie. Ek is tog so lief vir haar, maar as ek praat, baklei ons.
“Meneer, skryf vir haar asseblief dat sy nie so grootgemaak is nie. Skryf so direk. Sy is meer. Haar waardigheid en eer was nooit goedkoop nie.
“Asseblief meneer. Sê vir haar sy moet haar naam oppas. Sê vir haar verhoudings begin met vriendskap. Sê vir haar ’n meisie klim nie sommer in ’n kar en gaan weg met ’n man alleen nie.
“Ons is arm en kom van ’n klein plekkie maar ons is nie so nie. ’n Man loop laai jou nie sommer net op nie. ’n Derde ‘date’ is nie bedtyd nie. ’n Vrou moet binne en buite mooi wees.
“Sê net eers die goete, (sic) asseblief meneer.”
Nog drie bladsye volg.
Wat kan ek antwoord, vir so ’n ma-hart?
Ja, mevrou. In liefde deel ek jou briefie.
Jy skryf mooi en opreg genoeg.

