Daar is ’n bekende cliché wat ons maklik gebruik, vir ons kinders leer en wat ’n motto word waarvolgens baie mense ook lewe, naamlik: Maak die beste van elke geleentheid en benut elke oomblik.

Is dit goeie raad?

Hierdie vraag oordink ’n klompie van ons terwyl ons ná ete heerlik om ’n tafel sit, kuier, nadink. Dit is juis een van die jongmense wat die vraag krities vra.

Moet ’n mens van elke geleentheid die beste maak en elke oomblik benut?

Wat ’n interessante gesprek.

Dinge draai dié kant toe en dan daardie kant toe.

En stadigaan begin die klomp om die tafel saamstem.

Ja, ’n mens moet van geleenthede die beste maak, en ’n mens moet oomblikke wat ’n mens het, geniet.

Maar as ’n mens daaroor begin nadink, besef ’n mens dit is nie ’n waarheid wat altyd geldend is nie.

Soms is daar geleenthede wat jy nie die beste van moet maak nie en soms is daar oomblikke wat jy nie moet benut nie, maar eerder moet laat verbygaan.

’n Mens moet ook leer om nugter te oorweeg en te besluit.

As hierdie geleenthede en oomblikke jouself of ander te na kom, is dit dikwels goed om dit eerder te laat verbygaan.

Geleenthede en oomblikke kan jouself of mense om jou seermaak – dan is dit beter om dit te los.

Daarom moet ’n mens mooi dink.

Soms moet ’n mens laat verbygaan.

Ter wille van jouself.

Ter wille van ’n ander.

Soms lê ware wysheid in die verbygaan.

You need to be Logged In to leave a comment.