Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Om oor te begin in die lewe is nie maklik nie. Tog, dit is dikwels nodig. Sommige moet selfs ‘n derde of ‘n vierde keer oor begin.

Dikwels is dit iemand se eie skuld, eie foute, eie keuses, eie besluite. Dikwels die van ‘n ander. Mense wat ander te nagekom het. Mense wat mekaar nie noodwendig mooi hanteer het nie.

Oorbegin is dikwels weens omstandighede buite beheer nodig, byvoorbeeld vloede of brande, siekte of ‘n ongeluk.

Wat ook al die rede mag wees – ons moet daarop ingestel wees om mense te help om oor te begin. Mekaar ‘n hand gee, mekaar bystaan en mekaar help.

Om te oordeel of te verdruk te verwyt of ver-der te vernietig help niemand eintlik.

Ek het eendag by ‘n jong kind in die tronk op die grond gesit. Hy het net een ding gevra: “Oom, moenie raas nie, help my.”

Ek het by ‘n man gesit wat uit eie toedoen swak besluite geneem het. Hy het genoeg met homself geraas.

Ek het by ‘n vrou gesit wat nie geweet het hoe vorentoe nie.

Al drie van hulle het oorbegin.

Ek kon hulle nie juis help nie, hulle moes self, maar ek kon daar wees.

Die lewe werk nie altyd uit soos ons beplan of hoop of dink nie. Daarom is begrip nodig vir wanneer iemand opreg en kragtig wil oor begin. Dit is nie maklik nie, dit is nie eenvoudig nie.

As jy iemand kan help met jou gawes, jou tyd, jou vermoë, jou insigte – hoekom dit nie doen nie? Meer as een keer het iemand net nodig dat iemand in jou glo, dat iemand weet jy kan, dat jy nie bly lê nie.

Die rede hoekom mense moet oor begin verskil baie van mekaar, maar eindelik lewe ons maar in ‘n gebroke, stukkende ou wêreld. Dit moet ons nie vergeet nie.

As jy kan, gee jou hand, tel op en loop saam.

You need to be Logged In to leave a comment.