Daar is ’n reuse-verskil tussen iemand wat werk omdat hulle hul roeping verstaan en iemand wie se werk sommer net ’n “job” is.
So het dié ou oom my mooi geleer.
Hy het fluit-fluit gewerk, seker die heel slegste werk in daardie piepklein dorpie.
Hy was verantwoordelik vir die wegry van die nag-emmers. Dit is hoe dit daar genoem is.
Elke oggend lank voordat die son opkom, het jy die dorpie se trekker gehoor met die wa vir die nag-emmers.
Eintlik maar ’n ondankbare werk.
Op daardie stadium het hy dit reeds 28 jaar lank gedoen.
Hy het vertel hoe hy die jong mense sien kom en gaan het. Hulle belowe mos baie, maar hulle doen min, het hy gesê.
So teen die derde of vierde maand begin hulle kla en skielik, een oggend, kom hulle net nie weer terug nie.
Hyself het geleer om fluit-fluit nag-emmer vir nag-emmer te laai. Hy het amper opgewonde geraak toe hy vertel dat hy weet met elke emmer maak hy ’n verskil aan daardie gesin se omstandighede.
“Laat ek maar twee of drie dae siek wees, seun”, het hy laggend gesê, “dan sien jy ’n gemors.”
So het hy die gemeenskap gedien.
Sy werk was vir hom meer as net dit. Dit was ’n roepingswerk.
Hy was gesteld daarop.
Dit was nie net ’n “job” nie.
Hy het aangetree vir sy roeping, hy het nie gekom vir ’n dag se “job” nie.
Vandag toe ek gekonfronteer word met ’n staatsamptenaar wat sy “job” swak pleeg, toe dink ek weer aan hom, wat nag-emmers fluit-fluit uitgehaal het.
Hy het verstaan.

