Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Wanneer ‘n mens ‘n bietjie gaan stilstaan in die natuur, besef jy hoe min ‘n mens werklik weet.

Hoe meer ‘n mens aangegryp word deur die grootsheid van die natuur, hoe kleiner word jy in jouself.

Met die jaarlikse Vasbyt hier in die Noord-Kaap die afgelope week het ek net weer onder die indruk gekom van hoe min ek werklik weet.

Die formaat van hierdie wedloop is so saamgestel dat jy eintlik ure lank kan loop net met jou eie geselskap – jy in die natuur, sonder om ‘n mens te sien.

Dit is tydens só ‘n stappie, dat niemand kilometers voor my is nie en niemand kilometers ná my nie, dat ek begin vrae vra oor die natuur.

Met die pragtige reënseisoen is die veld lieflik groen en alles roep en getuig van lewe.

Dit is insekte en goggas, spinnekoppe en klein diertjies. Die tarentale pik orals rond en duidelik getuig al die dierespore in die veld van ‘n ywerige naglewe hier in die bosse.

Die grootsheid van die natuur maak my klein.

Hoe kan ons verstaan waar veldblomme al hul kleure vandaan kry, of hoe al hierdie veldlewe versorg word.

Die mens is gewoon te klein.

Ek verstom my aan duisende miere wat nie net skarrel en werk nie, maar hulle elkeen nou reeds voorberei vir die winter wat kom. Hulle dra almal kos na die mierneste toe aan, jy sien hulle nêrens sonder kos aan die beweeg nie.

Ek wonder hoe het hulle geweet dit is tyd om te begin spaar vir die winter.

Ek wonder hoe het die likkewaan sy maat gevind.

Ek wonder waar het die slang heen geseil dat ek net die spoor sien.

En ek wonder oor die gras wat so groei en die natuur wat herfs begin wys.

En hoe weet die reën wanneer genoeg genoeg is.

Ná alles besef ek maar net weer: Die hele skepping getuig van haar Skepper.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article