Hy is klein, en sy kleuterskoolklas is klein, en sy skool is klein.
Maar sy hart is groot.
Met ons besoek daar het hulle vir ons prentjies gemaak.
Spesiaal.
Ons lees vir hulle stories en hulle kuier en gesels met ons en is dankbaar om vandag te kan eet en te kan leer en te kan vrolik wees.
Dit is wanneer ons by die liedjies sing kom, dat hy sy hart wys.
Sy maatjies is maar so klein soos hy en hulle is maar skaam.
Nie hy nie.
Hy wil graag sing. Sommerso op sy eie.
Hy sing Bybel-liedjies.
Te pragtig. Innig. Opreg.
’n Mens bewonder hom daarvoor.
Sodra hy wegspring, val die hele klassie in.
Hy lei met sy groot hart.
Intussen sing hy nog ’n keer of wat alleen.
Ná die tyd, wanneer die tannie vir hom vra waar het hy so mooi leer sing, dan breek hy ’n mens se hart.
Nee, nie by die kerk nie.
Nee, nie by sy ouers nie.
Nee, nie by die skool nie.
By Oupa.
Sy Oupa het hom geleer, maar Oupa is nou dood, nou leer hy nie meer nuwes nie.
Ek besef maar net weer die wonder van geslagte, die wonder daarvan om kinders en kleinkinders te leer en te laat leer. Só word werk voortgesit lank nadat jy nie meer daar is nie.
Wat leer ons vir ons kinders?
En vir ons kleinkinders?
Wat laat ons na?
Dit is die vrae waarmee ons moet worstel.
Ons leer hulle.
En hulle onthou.


