Twee voorbeelde op een dag laat my net weer die waarde daarvan besef om iemand opreg te help.

In die eerste geval stap ’n ouma en haar kleinseun voor my. Op sigself ’n mooi prentjie.

Dan moet hulle trappe klim. Sonder huiwering steek sy haar hand na hom uit en hy sy hand na haar.

Haar woorde is so mooi: “Vat my hand, ek is onseker om die trappe te klim.”

En dan sy mooi antwoord.

“Vat, Ouma, ek help Ouma”.

Hoe lekker is dit as ’n hand daar is wanneer jy dit nodig het. ’n Gewillige hand van liefde. ’n Hand wat verstaan en wat nie volgens voorwaardes handel nie – wat net verstaan.

Toe sy dit nodig het, was sy hand net daar.

Met die tweede voorbeeld staan ek in ’n ry terwyl ’n moeder met twee kinders in haar arms, en ook nog pakkies, verbyloop.

’n Man stap op daardie stadium verby haar.

“Kom, ek help jou dra.”

Hy huiwer nie, al is hy aan haar onbekend. Hy steek sy arms uit, neem die pakkies uit haar hand – en ’n mens sien die verligting oor haar hele lyf.

Die man neem die pakkies uit haar hand, maar – ’n mens kan sien – ook die las van haar binnekant af. Dit is asof sy hand tot hulp haar menswees aanraak.

Ons moet daaroor dink: Steek ek nog spontaan ’n hand uit wat help?

En hoe heerlik as ek my hand om hulp kan uitsteek.

Om te help en hulp te kry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article