Selfondersoek is ’n vreeslike moeilike ding.
Dit bly ’n interessantheid hoe maklik dit is om ondersoek te doen na die woorde, die dade, die gedagtes, die menswees, die karakter van ’n ander.
Maar, na jouself, dit is iets anders. So asof ons altyd ’n regverdiging en ’n eie stel argumente het oor hoekom ons woorde regverdig is en ons dade goedgepraat kan word en ons kant nie te sleg is nie.
Amper asof daar ’n verhindering is om opreg in ons eie binnekant rond te grawe.
Daarom verstaan ons nie; verstaan ons nie ’n ander se seer, of ’n ander se omstandighede of ’n ander se keuses of ’n ander se manier van optree nie.
Tog, ons moet maar by onsself begin. En begin grawe. Daar waar ander nie kan sien nie.
Ons moet onsself leer ken en deursoek. Om te verstaan, werklik te verstaan, moet jy in jou lewe voor keerpunte kom waar jy deeglik na binne gekyk het en oordink het.
Soms is dit nodig om met jouself in ’n stryd te gaan, jouself skoon te skrop en uit te kom by waar jy moet wees. Dit is net so moeilik.
So moeilik om te erken dat ons verkeerd was, dat ons anders moes, anders kon.
Juis omdat hierdie selfondersoek so moeilik is, raak ons eintlik dikwels hoogmoedig, stel ons ons aan oor ’n ander en fokus ons op hulle.
Wees groot hierdie week, grawe in jou binnekant, deursoek jouself, probeer kaal voor jou eie binnekant staan.
Só bou jy vorentoe.

