Die afgelope week, met werksaamhede in die Kaap, het ek net weer besef hoe magteloos, nietig ’n mens is teen die krag van die natuur.
Die Kaap het sy naam gestand gedoen as Kaap van Storms.
Wind en water het vernietigend voortgebeur.
Hoe klein en nietig is die mens?
Daarom dat ’n mens verstom staan hoe min ons as mense die belangrikheid van nederigheid erken.
Eintlik was daar nog nooit een wêreldmag wat kon bly voortbestaan nie.
Dit maak nie saak hoe ver ’n mens in die geskiedenis terugkyk nie.
Lande kom en gaan, mense kom en gaan, organisasies kom en gaan, magte kom en gaan.
Daar is mos die bekende uitdrukking: Mag is ’n vreeslike ding, die beste kry dit nie goed reg nie.
Daarom betaam dit ’n mens om maar nederig te woon en te werk.
Hoogmoed en krag en mag kom tot ’n val.
Hoe erg dit ook al klink.
Jy het net jou tyd om te doen wat jy kan en moet doen.
Mag hou nie vir altyd nie en mag bly nie voortbestaan nie.
Die slegste is seker wanneer mense te veel mag kry en nie weet hoe om dit te gebruik nie en dit selfs misbruik ten koste van ander.
Dit is hierdie week in die Kaapse water wat so loop en loop en wind wat waai wat ek dink aan die dissipels ’n dag op die boot, wat hulle gevra het: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see hom gehoorsaam is?”

