Sy plasie was maar klein en nie eintlik lewensvatbaar vir volskaalse boerdery nie.

Vir hom was dit meer as genoeg.

Hy was immers al 92 en wou nie groot boer nie.

Baie keer, teen laatmiddag, het ek saam met hom onder die vrugtebome gaan sit.

Sommer net.

Ek het die wêreld se respek vir hom gehad.

Hy was lewenswys, vol ervaring en het in soveel eenvoud na die lewe gekyk.

Ek was vir hom gewoon net lief. Hy het nie veel fieterjasies gehad nie.

Ons het in die kombuis koffie gemaak en onder die boom gaan sit.

Dan sou hy vertel van slange en seisoene, van droogte en die gewoontes van voëltjies en van siekte op die vrugte en van die wind wat te vroeg waai hierdie jaar.

Ons sou ook gesels oor mense. Hy was gelief in sy gemeente en gemeenskap.

Oor sy lewenslesse kon ek boeke vol skryf, maar een van die grootste waarhede in die hantering van mense het hy vir my in vye-tyd geleer, een laatsomer.

Hy het sy koffie geroer, diep gesug, ons het gesels oor iets by die gemeente die afgelope week.

Hy het na geloof verwys en die belangrikheid om te kyk waarmee jy meet.

Hy herinner my die maat waarmee jy meet, sal oor jou mee gemeet word.

Ek het nie toe verstaan nie.

Eers later in my lewe sou ek leer wat dit beteken om versigtig te wees vir die maat waarmee ek meet.

Wat as ek met dieselfde maat gemeet word.

You need to be Logged In to leave a comment.